Drie vas ná huisroof, danksy AfriForum en ander
AfriForum se Songloed-buurtwag in Klerksdorp het op 18 September in samewerking met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Action Force Sekuriteit daarin geslaag om drie vermeende huisrowers vas te trek.
Dit het gevolg ná die Songloed-buurtwag om 12:35 inligting ontvang het dat ’n huisroof by een van die lede van die Songloed AfriForum-nood-WhatsApp-groep plaasgevind het. Die rolspelers het die toneel binne minute gehaal en, danksy gekoördineerde optrede tussen almal kon al drie die verdagtes spoedig aangekeer word.
“Die voorval beklemtoon die belangrikheid van ’n goed funksionerende buurtwag en ’n noodgroep wat vinnige kommunikasie tussen inwoners en veiligheidsrolspelers moontlik maak. Wanneer ’n noodsituasie aangemeld word, kan relevante inligting vinnig versprei word sodat die nodige rolspelers op die toneel kan reageer,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Die suksesvolle optrede wys ook op die waarde van samewerking tussen gemeenskapsveiligheidstrukture, die SAPD en private sekuriteitsmaatskappye.
“Dit is maklik om veiligheid as iemand anders se verantwoordelikheid te beskou, maar hierdie voorval wys watter verskil dit maak wanneer inwoners self betrokke raak. ’n Sterk buurtwag en ’n aktiewe gemeenskap stel ons in staat om vinnig op te tree en saam met ander veiligheidsrolspelers ’n daadwerklike verskil te maak. Ons is dankbaar vir elke inwoner wat nie net veiligheid verwag nie, maar ook bereid is om deel van die oplossing te wees,” sê SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak gerus vir SW Scott by 082 806 7484 of by die Songloed-buurtwag, kontak vir Romke de Jongh by 074 429 7777.



