AfriForum eis antwoorde oor buitensporige Mangaung-tariefverhogings
AfriForum het vandeesweek in ’n dringende skrywe aan Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, dié metro tot verantwoording geroep oor die buitensporige verhogings wat sedert die instelling van die 2026/2027-tariewe op sommige inwoners se munisipale rekeninge verskyn.
Verskeie inwoners, veral dié op kleinhoewes, plase en die omliggende dele van Bloemfontein soos Bainsvlei, het verhogings van etlike honderd persent aangemeld. Dit terwyl talle gemeenskappe steeds gebrekkige, onbetroubare of feitlik geen munisipale dienste ontvang nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners al hoe meer moet betaal, terwyl hulle self paaie moet onderhou, privaat vullisverwydering moet reël en alternatiewe oplossings vir water, elektrisiteit en ander basiese dienste moet finansier. Inwoners betaal in werklikheid twee keer vir dienste wat die metro behoort te lewer,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
AfriForum meen dat ongerymdhede soos hierdie onder die vergrootglas geplaas moet word en dat die metro die inwoners ’n verduideliking skuld oor hoe hierdie tariewe bereken en goedgekeur is en waarom sommige eiendomme skielik anders geklassifiseer is as tevore.
AfriForum eis dat alle rekeninge met abnormale verhogings onmiddellik ondersoek word en dat die betwiste dele opgeskort word terwyl formele dispute oorweeg word. Verkeerde waardasies, eiendomsklassifikasies, tariewe en terugwerkende heffings moet sonder versuim reggestel en gekrediteer word.
“Die Grondwet verleen nie aan munisipaliteite ’n onbeperkte mag om tariewe willekeurig te verhoog nie. Tariewe moet wettig, rasioneel, billik en deursigtig wees. Die metro kan nie sy finansiële en diensleweringsmislukkings eenvoudig op betalende inwoners afskuif nie,” voeg Groenewald by.
AfriForum het intussen ’n dringende vergadering met More, die hoof- finansiële beampte en die betrokke munisipale departemente versoek om die saak uit te klaar.
“Die inwoners van Mangaung kan nie aanhou om meer vir minder te betaal nie. Verhoogde tariewe moet met aanspreeklikheid, deursigtigheid en meetbare dienslewering gepaardgaan,” sluit Groenewald af.
Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit word in die afgrond in bestuur en inwoners betaal die prys. Teken AfriForum se petisie hier om verantwoordbaarheid af te dwing.



