|

Amerikaanse ambassadeur besoek AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum in Centurion

Dekfoto: Dr. Dirk Hermann (uitvoerende hoof van Solidariteit), Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum), L. Brent Bozell III (Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika) en Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit Beweging)

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

L. Brent Bozell III, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het vandag AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum in Centurion besoek. Die besoek was daarop gemik om AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture en tegnologie-gedrewe beheerkamers aan die ambassadeur ten toon te stel en te wys op die praktiese rol wat dié instelling reeds speel in die bekamping van plaasmoorde en ander misdaad in landelike en stedelike gebiede.

L. Brent Bozell III (Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika) se reaksie op sy besoek aan AfriForum.

Ambassadeur Bozell se besoek kom te midde van AfriForum se volgehoue pogings om die dispuut tussen Suid-Afrika en die VSA rakende plaasmoorde en landelike veiligheid op te los deur met praktiese voorstelle vorendag te kom. As deel van dié pogings het AfriForum onlangs ’n omvattende veiligheidsvoorstel aan die Suid-Afrikaanse regering gemaak.

Dié voorstel wys hoe gemeenskapsveiligheidstrukture – soos AfriForum se landwye netwerk van 178 buurt- en plaaswagte – binne die raamwerk van die wet en in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), privaat sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsrolspelers kan optree om die land se misdaadkrisis gekoördineerd te takel deur ’n openbare-gemeenskapsvennootskap. Die veiligheidsplan is voorts daarop gerig om veiliger omstandighede in die land te skep sodat mense dit nie nodig ag om die land te verlaat nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Tydens vandag se besoek het AfriForum aan ambassadeur Bozell gedemonstreer hoe die organisasie se veiligheidsplan in die praktyk geïmplementeer kan word. Die uitvoerende vermoë waaroor AfriForum reeds deur middel van sy buurt- en plaaswagte beskik – om te help met die implementering van die voorgestelde veiligheidsplan – is ook tydens die besoek aan die ambassadeur ten toon gestel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, kom die burgerregteorganisasie se voorstel aan die Suid-Afrikaanse regering op ’n tyd waar daar nog geen oplossing vir die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika gevind kon word oor plaasmoorde, landelike veiligheid en ander misdaad nie.

“AfriForum bly daarop gefokus om, in die belang van die land en sy mense, ’n konstruktiewe rol te speel om te help om die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika oor plaasmoorde en landelike veiligheid op te los. Indien die Suid-Afrikaanse regering positief reageer op AfriForum se voorstel vir ’n openbare-gemeenskapsvennootskap om misdaad te bekamp, ​​sal dit die stryd teen misdaad in die belang van almal in die land versterk. AfriForum glo ook dat dit ’n positiewe bydrae sal maak om te help om Amerikaanse kommer oor plaasmoorde en ander misdaad die hoof te bied,” voeg Kriel by.

AfriForum se veiligheidsvoorstel aan die Suid-Afrikaanse regering sluit onder meer in die instelling van ’n staande werkkomitee tussen AfriForum en die SAPD wat daarop sal fokus om relevante veiligheidsrolspelers by ’n gekoördineerde strategie teen misdaad te betrek.

Kriel wys daarop dat so ’n strategie sterk sal steun op die gebruik van beheerkamers soos dié van AfriForum, wat tegnologie – insluitend kameranetwerke, kommunikasiestelsels en misdaadanalise-sagteware – as magvermenigvuldigers gebruik. Hierdie tegnologieë ondersteun plaaslike gemeenskapsveiligheidstrukture, privaat sekuriteitsmaatskappye en die SAPD deur onder meer monitering, die koördinering van reaksies en die ontplooiing van hulpbronne tydens noodgevalle.

Ambassadeur Bozell is tydens sy besoek aan AfriForum ontvang deur Kriel en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Senior lede van AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het aanbiedings aan die ambassadeur gemaak oor die verskillende komponente van AfriForum se strategie teen misdaad. Die volgende AfriForum-veiligheidkomponente is ten toon gestel: buurtwagte; gespesialiseerde reaksiespanne teen misdaad; die AfriForum-traumaeenheid (wat slagoffers van misdaad bystaan); ’n rampbestuursentrum; opleidingskursusse; en tegnologiese hulpbronne soos paniekknoppies, hommeltuie, kommunikasiestelsels, kameranetwerke en misdaadanalise-sagteware.

Ambassadeur Bozell is ook na AfriForum se beheerkamer by sy gemeenskapsveiligheidsentrum in Centurion geneem. Hy het ook die vertrek van tientalle AfriForum-buurtwagvoertuie vanaf die sentrum, met die afskop van ’n gemeenskapspatrollie, aanskou.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners, Veiligheid