Christiana-tak verwyder meer as twee ton vullis ná munisipaliteit se versuim
AfriForum se Christiana-tak het verlede week self ingespring om vullis op die dorp te verwyder nadat die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit vir langer as twee weke versuim het om sy munisipale pligte na te kom en geen vullisverwyderingsdienste aan inwoners gelewer het nie.
Inwoners was genoodsaak om alternatiewe planne te maak, waarna die tak meer as twee ton vullis, bestaande uit meer as 300 sakke, verwyder het in ’n poging om die situasie te verlig en die dorp skoner te hou.
“Gemeenskappe kan nie onbepaald wag terwyl vullis ophoop en inwoners sonder ’n basiese munisipale diens gelaat word nie. AfriForum se Christiana-tak het besluit om in te spring en iets prakties aan die situasie te doen. Ons doen dit ter wille van ons gemeenskap en die dorp waarin ons woon,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Stellaland.
AfriForum het verneem dat die munisipaliteit na verwagting vandeesweek die vullisverwyderingsdiens hervat. Die tak sal die situasie egter fyn dophou om te verseker dat die diens volgehou word. AfriForum se Christiana-tak staan ook gereed om weer in te spring indien die munisipaliteit nie daarin slaag om die diens behoorlik voort te sit nie.
“Ons verwag dat die munisipaliteit sy verantwoordelikhede teenoor inwoners sal nakom. Vullisverwydering is ’n noodsaaklike diens en inwoners behoort nie self noodoplossings te moet vind daarvoor nie,” sluit Nel af.
Kontak Jp Nel by 081 217 1627 om by AfriForum se Christiana-tak aan te sluit.



