AfriForum bekommerd oor skoleplasings in Gauteng
Ouers van kinders wat volgende jaar met graad 1 of graad 8 in Gauteng moet begin, sal van die einde van hierdie week af hoor of hul kinders by hul voorkeurskole plek gekry het. AfriForum is egter bekommerd dat die plasings nie betyds vir die aanvang van die skooljaar in 2027 afgehandel sal wees nie.
Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum, meen die proses van plasings moenie elke jaar tot op die nippertjie gelos word nie. “Verlede jaar het ouers teen die einde van September gehoor of hul kinders geplaas is. Dit het veral uitdagings veroorsaak waar kinders nie by hul eerste keuse skool plek gekry het nie, met bitter min tyd om die appèlproses te volg. Die departement het belowe om vanjaar vir ouers meer tyd te gee, maar ouers sal twee weke later as verlede jaar eers uitvind of hul kind geplaas is.”
Die eerste kennisgewings word Donderdag (15 Oktober) uitgestuur waarna SMS-boodskappe in sarsies tot teen die middel van November uitgereik gaan word om ouers te verwittig van waar hul kinders geplaas is.
“As ’n ouer nie Donderdag ’n plasingboodskap ontvang nie, is dit nie op sigself rede tot kommer nie, maar ek stel voor dat ouers wat teen die einde van Oktober nog niks van die departement gehoor het nie, met hul voorkeurskool opvolg om te hoor of daardie skool se boodskappe al uitgestuur is,” sê Bloem.
Ouers wat nie boodskappe ontvang het nie, kan ook na hul aanlyn profiel gaan kyk om te sien of daar nie dalk ’n kennisgewing is wat aandui dat daar iets skort om die aansoek af te handel nie. Dit kan byvoorbeeld ’n geval wees dat daar sekere dokumentasie ontbreek. Navrae kan ook aan die distrikskantoor gerig word.
“Ná die SMS ontvang is moet ouers op hul aanlyn profiel inteken om die plasing by die skool te aanvaar. Ongelukkig is daar nie veel ander opsie as om dit te doen nie aangesien om voorwaardelik te aanvaar in teorie tot ’n appèlproses lei wat na alle waarskynlikheid nie voltooi sal wees voor die skole volgende jaar open nie,” verduidelik Bloem.
By laerskole kan ouers wel vanaf graad 2 en by hoërskole vanaf graad 9 by die skool self vir plasing aansoek doen om sodoende hul kind by hul voorkeurskool te probeer kry.
“Alhoewel daar genoeg plek is vir alle graad 1- en graad 8-leerders in Gauteng in 2027 is ’n verdere bekommernis dat ’n Afrikaanse kind dalk by ’n Engelse skool geplaas word,” benadruk Bloem.
“AfriForum kan ongelukkig nie direkte individuele ondersteuning bied of enige druk toepas om ’n kind in ’n spesifieke skool te laat plaas nie. Ons hoor graag van ouers wat probleme ondervind om ’n sterker saak te bied indien dit sou nodig word om die departement aan te vat,” sluit sy af.
Rig ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za om AfriForum van enige plasingsprobleme te verwittig.



