| | |

AfriForum se landswye massapatrollie lewer weer talle suksesse op

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

AfriForum se 178 buurt- en plaaswagstrukture het die afgelope naweek hul derde landswye massapatrollie vir die jaar aangepak. Dié gekoördineerde landswye massapatrollie was daarop gemik om gemeenskappe se veiligheid te verbeter en wetstoepassing te ondersteun.

Die massapatrollies vorm deel van AfriForum se nasionale veiligheidstrategie en het ten doel om sigbare patrollering te verhoog, samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) en ander veiligheidsrolspelers te versterk, en AfriForum se veiligheidstrukture se paraatheid te toets.

Gedurende hierdie landswye operasie is verskeie noemenswaardige suksesse behaal, insluitend in Springs, Durbanville, Johannesburg-Noord, Gqeberha (voorheen Port Elizabeth), Germiston, Malmesbury, Swellendam, Pretoria en Mbombela (voorheen Nelspruit).

In Springs is verskeie wapens en dwelms tydens ’n optrede by verlate munisipale geboue gekonfiskeer.

AfriForum se Durbanville-buurtwag het wetstoepassers bygestaan tydens ’n operasie waar ’n onwettige sjebien gesluit en onwettige drank gekonfiskeer is.

AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag het intussen aan operasies saam met die SAPD in Erasmia en Olievenhoutbosch deelgeneem. Tydens Vrydag se operasie is 16 verdagtes gearresteer – sewe vir die besit van en handel in dwelms, drie vir die onwettige verkoop van drank en ses weens beweerde oortredings van immigrasiewetgewing. Tydens ’n daaropvolgende Operasie Shanela-padblokkade is ’n verdere 37 arrestasies gemaak, waaronder nege vir dronkbestuur en 28 weens beweerde immigrasie-oortredings.

Die Johannesburg-Noord-buurtwag het saam met die SAPD en GPF opgetree teen openbare dronkenskap, dronkbestuur, die vertoon van ’n vuurwapen en onwettige drankhandel. Sewe persone is ook vir vingerafdrukke ingeneem en twee messe asook alkohol is gekonfiskeer.

Die Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het die SAPD tydens ’n padblokkade bygestaan waar 41 voertuie afgetrek is. Een voertuig met vals nommerplate is geïdentifiseer.

In Germiston het buurtwaglede gereageer op ’n onwettige kabelverbinding in Mimosapark. Die SAPD het bystand verleen en drie verdagtes is in hegtenis geneem. Lede het ook bystand verleen ná ’n inbraak by Laerskool Daeraad in Primrose.

AfriForum se Malmesbury-buurtwag het met twee arrestasies gehelp, onder meer tydens ’n optrede by ’n plaaslike smokkelhuis. Lede het ook ’n veldbrand langs die N7 geblus.

In Swellendam het samewerking tussen die AfriForum-buurtwag en die SAPD tot sewe arrestasies gelei. Agt smokkelhuise is geskut en nege persone is gestop en deursoek. Daar is onder meer beslag gelê op 48 kaste bier, ander alkohol, sowat 3,9 kg dagga, tik en Mandrax. ’n Ongelisensieerde voertuig waarvan die bestuurder ook nie ’n geldige bestuurslisensie gehad het nie, is gestop en ’n boete van R2 500 is uitgereik.

Verskeie AfriForum-strukture, waaronder die Nelspruit-buurtwag en Herbertsdale-plaaswag, het ook van dié geleentheid gebruik gemaak om gebeurlikheidsplanne vir plaasaanvalle en ander ernstige veiligheidsvoorvalle in te oefen.

“Hierdie massapatrollie wys wat moontlik is wanneer opgeleide gemeenskapsvrywilligers en wetstoepassers doelgerig saamwerk. Ons mense patrolleer nie bloot strate om sigbaar te wees nie – hulle oefen noodplanne in, ondersteun die polisie en ander rolspelers en tree binne die raamwerk van die wet op waar gemeenskappe hulle nodig het. Van dwelms en onwettige wapens tot dronkbestuur en kabelmisdaad: die naweek se suksesse wys waarom georganiseerde gemeenskapsveiligheid ’n noodsaaklike deel van die stryd teen misdaad geword het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum se landswye massapatrollies word ook gebruik om die organisasie se vermoë om veiligheidstrukture op groot skaal te mobiliseer, kommunikasie te toets en samewerking met ander rolspelers te versterk.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om by georganiseerde veiligheidstrukture betrokke te raak en saam verantwoordelikheid vir die veiligheid van hul woonbuurte en landelike gebiede te neem. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak by jou naaste buurtwag.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid