Chris Hani-distriksmunisipaliteit se voorgestelde watertariefverhogings bo 300% voorspel niks goed vir verbruikers se sakke
AfriForum het formele beswaar aangeteken teen die voorgestelde 2026/2027 watertariefverhogings wat die Chris Hani-distriksmunisipaliteit vir openbare kommentaar gepubliseer het. Die organisasie is van mening dat die voorgestelde verhogings ’n beduidende finansiële las op huishoudings, pensioenarisse, kerke, skole, nie-winsgewende organisasies en ondernemings regoor die distrik plaas.
In ’n brief wat AfriForum op 26 Mei aan die munisipaliteit gerig het, word duidelikheid geëis oor die berekening en regverdiging van die voorgestelde tariewe. Die organisasie wys daarop dat inwoners van Cradock reeds vir maande ernstige waterprobleme ervaar, wat wissel van geen watervoorsiening tot uiters lae waterdruk. Volgens AfriForum wek dit kommer dat die drastiese tariefverhogings moontlik die gevolg is van jarelange swak of onvoldoende instandhouding van waterinfrastruktuur.
Volgens die gepubliseerde konsep-tariefstruktuur word voorgestel dat huishoudelike watertariewe in die laagste verbruikersblok (0 tot 6 kiloliter) verhoog word van R13,80 per kiloliter na R61 per kiloliter. Dit verteenwoordig ’n verhoging van ongeveer 342%. Soortgelyke verhogings word ook vir verskeie huishoudelike, institusionele en sake kategorieë voorgestel. AfriForum waarsku dat ’n huishouding wat tans gemiddeld 15 kiloliter water per maand gebruik onder die nuwe tariewe moontlik tot sowat R1 000 per maand vir water sal moet betaal.
Hoewel munisipaliteite wetlik geregtig is om tariewe te verhoog waar dit geregverdig is, moet sodanige verhogings steeds voldoen aan die bepalings van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswet 32 van 2000. Artikel 74(2)(d) van dié wet bepaal uitdruklik dat tariewe die koste moet weerspieël wat redelikerwys met die lewering van die diens verband hou. AfriForum beklemtoon dat die begrip “redelikerwys” van kardinale belang is.
Volgens AfriForum kan koste wat voortspruit uit swak bestuur, gebrekkige instandhouding, buitensporige waterverliese, korrupsie, ondoeltreffende verkrygingsprosesse, swak fakturering, vermybare tenkwa-uitgawes en onvoldoende inkomste-invordering nie bloot op verbruikers afgewentel word nie. Die munisipaliteit dra die verantwoordelikheid om te bewys dat die voorgestelde tariewe gebaseer is op onvermydelike, doeltreffende en redelike diens leweringskoste.
Die Munisipale Stelselswet vereis verder dat ’n munisipaliteit se tariefbeleid billik en deursigtig toegepas moet word, dat gebruikers se betalings in verhouding tot hul diensgebruik moet wees, dat behoeftige huishoudings toegang tot basiese dienste moet behou en dat enige subsidies of kruissubsidiëring volledig openbaar gemaak moet word.
AfriForum het in die brief onder meer ook die volgende inligting van die munisipaliteit aangevra en moedig inwoners aan om dieselfde te doen:
- die volledige koste-van-voorsieningstudie en tariefberekeningsmetodologie;
- bewys van bekostigbaarheidsontledings;
- besonderhede oor ondersteuning aan behoeftige huishoudings;
- regverdiging vir die drastiese verhoging in die 0 tot 6 kiloliter verbruikersblok;
- bewys dat die koste wat verhaal word redelik, doeltreffend en onvermydelik is;
- volledige openbaarmaking van enige subsidies of kruissubsidiëring; en
- oorweging van ’n gefasseerde implementering eerder as ’n onmiddellike en drastiese verhoging.
“Water is nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklike diens wat direk verband hou met menswaardigheid, openbare gesondheid en ekonomiese oorlewing. Enige skuif na koste-reflekterende tariewe moet gepaardgaan met deursigtigheid, billikheid en sensitiwiteit vir die moeilike ekonomiese omstandighede waarin baie gemeenskappe hulself tans bevind,” sê Louis van de Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder in die Oos-Kaap.
AfriForum doen daarom ’n beroep op die Chris Hani Distrik Munisipaliteit om op ’n oop en verantwoordbare wyse met die publiek in gesprek te tree, alle besware ernstig te oorweeg en die omvang sowel as die tempo van die voorgestelde tariefverhogings te heroorweeg voordat finale goedkeuring verleen word.
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.



