|

Boere ly in 2025/2026 minstens R1 miljard se verliese weens veediefstal

Deur Ilze Nieuwoudt

Die landboubedryf het volgens AfriForum in die afgelope boekjaar minstens R1 miljard in direkte verliese gely weens veediefstal. Dié skokonthulling kom te midde van ’n grootskaalse bek-en-klouseerkrisis en stygende brandstofpryse wat tans ook ongekende druk op boere plaas.

Luidens die jongste misdaadstatistiek is ’n totaal van 5 117 gevalle van veediefstal in die vierde kwartaal van 2025/2026 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld. Dit bring die groottotaal vir die afgelope boekjaar op 23 251 te staan.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld en samesteller van AfriForum se opleiding oor die bekamping van veediefstal, toon die polisie se statistiek ’n 9,8% afname in die aantal aangemelde veediefstalsake vir die vierde kwartaal van 2025/2026 teenoor dieselfde kwartaal in 2024/2025. Hy hou egter vol dat dié sogenaamde daling nie die volle omvang en finansiële impak van veediefstal in berekening bring nie.

“Die voorkoms van veediefstal is beslis hoër as wat die misdaadstatistiek dit wil laat blyk, maar omdat boere se vertroue in die polisie se veediefstaleenhede ’n laagtepunt bereik het, word die misdaad telkens nie meer aangemeld nie. Dit gee uiteraard aanleiding tot ’n onderrapportering van dié misdaad,” verduidelik Bekker.

Benewens die feit dat sekere sake van veediefstal bloot nie aangemeld word nie, skets die blote aantal voorvalle van veediefstal ’n onvolledige prentjie van die verliese wat boere weens dié misdaad ly.

Konserwatief gereken is die direkte verlies weens die diefstal van beeste, skape en bokke tans onderskeidelik nagenoeg R15 000, R2 500 en R3 000 per dier. Hierdie vorm van verlies neem nie die verlies aan aanwas in berekening nie. Gemeet aan die 2025/2026-veediefstalstatistiek van die SAPD, is minstens 72 709 skape, 50 805 bokke en 49 775 beeste sowel as kleiner hoeveelhede hoenders, varke, donkies, wild en perde gesteel.   

Die direkte finansiële verlies weens die diefstal van beeste, skape en bokke alleen was dus onderskeidelik meer as R181 miljoen, R152 miljoen en R746 miljoen. Dit is gesamentlik ’n direkte verlies van meer as R1,08 miljard.

“Veediefstal is lankal nie meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad nie. Dit het nou omvorm tot ’n gesofistikeerde misdaad waarby sindikate en selfs ook polisielede na bewering by betrokke is,” verduidelik Bekker. “Boere voer ’n moedige stryd om die land se mense te voed. Daarom is hernieude ywer in en politieke wil vir die bekamping van dié misdaad noodsaaklik en in die belang van die landboubedryf sowel as elke burger in die land,” sluit Bekker af.

Polisiekonstabel wat betrek is by veediefstal word oneervol ontslaan

’n Betroubare bron het aan AfriForum bevestig dat ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van Standerton, wat tereg staan op aanklag van die diefstal van nagenoeg R450 000 se beeste in die Standerton-, Greylingstad- en Perdekop-omgewing, vroeër vandeesweek oneervol uit die polisie ontslaan is. Konstabel Siyabonga Cindi van die Standerton-veediefstaleenheid is in Augustus 2025 gearresteer en het die eerste keer op 2 September in die hof verskyn op aanklagte van veediefstal. Hy het weer in Maart vanjaar in die hof verskyn ná hy by nog voorvalle van veediefstal betrek is. AfriForum verwelkom Cindi se ontslag en ag dit as ’n positiewe stap om misdadigheid ten opsigte van veediefstal in die polisie uit te roei.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid