Brakpan-tak bemagtig gemeenskapslede deur weeklikse vuurwapenopleiding
Die Gemeenskapsveiligheidsforum van AfriForum se Brakpan-tak bemagtig weekliks sy lede deur gratis vuurwapenopleiding aan te bied. Hierdie opleidingsinisiatief het ten doel om lede se kennis, verantwoordelike vuurwapenhantering en praktiese vaardighede voortdurend te ontwikkel en uit te brei.
Verskeie vaardighede en aspekte van persoonlike en gemeenskapsveiligheid word stelselmatig aangeleer en ontwikkel. Die opleiding sluit onder meer taktiese beweging, situasiebewustheid, persoonlike verdediging, voertuigtegnieke en ander relevante veiligheidsvaardighede in. Die verskillende opleidingsaspekte bou aanvullend op mekaar voort om lede se kennis en praktiese vermoë oor tyd verder te versterk.
Elke Proto14C-lid is ’n aktiewe deelnemer aan hierdie ontwikkelingsinisiatief. Verskeie lede dra ook hul kennis en ervaring by as mede-instrukteurs of baanoffisiere. Hierdie deurlopende ontwikkeling skep waardevolle kapasiteit binne die gemeenskap en stel lede in staat om, waar dit wettig en toepaslik is, ’n betekenisvolle bydrae tydens gesamentlike wetstoepassingsoperasies saam met en onder leiding van die plaaslike SAPD- en EMPD-wetstoepassingsorgane te lewer.
“Gemeenskapsveiligheid begin by verantwoordelikheid, goeie opleiding en deurlopende ontwikkeling. Deur ons lede toegang tot hierdie opleidingsgeleenthede te gee, wil ons help om verantwoordelike en bekwame gemeenskapslede verder te bemagtig. Ons is dankbaar vir vennote soos Elite Defensive Strategies wat ’n waardevolle rol speel om hierdie ontwikkeling moontlik te maak,” sê Danie van der Merwe, opleidingsinstrukteur en bestuurslid by AfriForum se Brakpan-tak.
Die Brakpan-tak nooi belangstellende gemeenskapslede uit om meer oor hierdie en die tak se ander inisiatiewe uit te vind en aktief by projekte in hul gemeenskap betrokke te raak.
Vir meer inligting, of om by AfriForum Brakpan-tak se verskeie inisiatiewe betrokke te raak besoek www.wordlid.co.za.



