Bly só veilig as jy in e-taxi ry
Die aard van e-taxidienste skep besonderse veiligheidsrisiko’s waaraan baie mense nie eens dink nie. AfriForum het daarom ’n gids saamgestel met handige wenke om hierdie risiko’s te bekamp.
Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder, verduidelik dat die gids gemik is op passasiers, maar ook hul familie en vriende. “Die doel van die gids is nie om wantroue in elke bestuurder te kweek nie, maar ’n mens kan ook nie vanselfsprekend die ritbesonderhede en persoon se identiteit aanvaar nie. Die soort misdaad waaraan passasiers blootgestel word, is gewoonlik ontvoering of roof,” sê Van Dalen.
E-taxidienste kan blootgestel word aan misdadigers wat hulle as bestuurders of passasiers voordoen. Passasiers klim in ’n voertuig saam met ’n onbekende persoon en is boonop dikwels alleen. Daar is dus uit die staanspoor sekere risiko’s gekoppel aan die gebruik van só ’n diens.
Die eerste stappe om veilig te bly begin voor jy nog die voertuig bespreek het:
- Maak seker jou foon is gelaai en dat die data aangeskakel is.
- Deel jou rit met iemand wat jy vertrou.
- Weet waarheen jy gaan.
Van Dalen sê die voertuig se registrasienommer, die soort voertuig en bestuurder se identifikasie moet nagegaan word voor ’n mens in die voertuig klim. “Laat die bestuurder sy naam vir jou sê, eerder as wat jy hom sy naam voorsê as jy sy identiteit bevestig. Indien enige van sy besonderhede nie reg is nie, moenie inklim nie.”
Hoe weet ’n mens daar skort iets?
As enige van die volgende tydens die rit gebeur kan dit ’n aanduiding wees dat die bestuurder met iets agterbaks besig is:
- Daar word herhaaldelik van die roete afgewyk.
- ’n Onbekende gebied word binnegery.
- Die bestuurder weier om afwykings te verduidelik.
- Hy sê die GPS se aanwysings is verkeerd.
- Jy word gevra om die rit te kanselleer.
- Jy word gevra om in ’n alternatiewe voertuig te klim.
- Iemand anders word onverwags opgelaai.
- Jy word vir ’n betaling buite die toepassing gevra.
Indien jy onraad vermoed, moet jy kalm bly en vermy om die bestuurder onmiddellik aggressief te konfronteer. Vra die bestuurder om na die roete terug te keer. Jy kan ook jou ligging deel met iemand wat jy vertrou, en as jy dink jy is in onmiddellike gevaar, die polisie bel.
Iets anders om teen te waak is om ná jy afgelaai is te vergeet van jou veiligheid. Hou byvoorbeeld jou sleutels vir die deur of hek gereed, kyk eers wat rondom die voertuig aan die gang is voor jy uitklim en vra die bestuurder om te wag tot jy binne is voor hy weer ry. Probeer ook die tydperk wat jy langs die voertuig staan, tot ’n minimum beperk.
“Ons doel is nie om mense bang te maak om e-taxi dienste te gebruik nie, maar om hulle te leer om dit veiliger te gebruik. ’n Paar eenvoudige gewoontes kan die verskil tussen kwesbaarheid en voorkoming beteken. Onthou dat veiligheid nie begin wanneer iets reeds verkeerd geloop het nie, dit begin voor ’n mens nog in die voertuig geklim het,” sluit Van Dalen af.
Stuur ’n e-pos aan thomas.vandalen@afriforum.co.za om die gids te bekom.



