Witteberg en Waterkloof kraai koning by nasionale Dink of Sink-finaal




Hoërskool Witteberg en Hoërskool Waterkloof het die afgelope naweek as wenners uit die stryd getree tydens die nasionale finaal van AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie. Dié finaal is op 19 September by Akademia se Leriba-kampus in Pretoria aangebied.
Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders het belowende jong debatteerders vanjaar weereens die kans gegee om hul vaardighede op die proef te stel. Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool- hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook ‘n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Die wenners van die provinsiale uitdunrondtes in Gauteng, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, Oos-Kaap en Wes-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem in onderskeidelik die junior en senior kategorieë. Die finaliste in die junior kategorie was Hoërskool Framesby, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Nelspruit, Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Witteberg en Hoërskool Ben Vorster. Die finaliste in die senior kategorie was Hoërskool Framesby, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Witteberg en Merensky Landbou Akademie. Gedurende die dag het dié 12 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe in hulle verwysingsraamwerk.
“Ons vier nie net ’n nasionale finaal nie. Ons vier tien jaar van Dink of Sink.
Tien jaar gelede het AfriForum ’n geleentheid gesien om ’n bestaande debatsruimte uit te brei waar jongmense in Afrikaans kan redeneer, standpunt inneem, luister, bevraagteken – en bowenal: dink. Wat begin het as ’n droom om Afrikaanse debat te bevorder, het gegroei tot ’n platform waar jongmense leer dat dit nie genoeg is om bloot ’n mening te hê nie. Jy moet dit kan begrond, verdedig en soms ook die moed hê om van mening te verander,” sê Carien Bloem, AfriForum se hoof van Onderwysprojekte.
In die junior kategorie (graad 8- en 9) het Hoërskool Witteberg se Heilene Meintjes, Inge Meintjes en Lize Joubert koning gekraai terwyl Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria se Moné Hugo, Mia du Plessis en Liza Marais as die naaswenners aangekondig was.
In die senior kategorie (graad 10, -11 en -12) het Hoërskool Waterkloof se Elzerie Vermaak, Ivan Louw en Hugo Louw die goue trofee huis toe geneem terwyl Hoërskool Framesby se Micaela Potgieter, Therese Otto, Matthys Potgieter as die naaswenners aangekondig was.
“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” sê Nicolene Smith, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.



