| | |

Bethal- en Teks-buurtspanne rol moue op om verskil te maak

AfriForum se Bethal- en Teks-buurtspanne het gedurende Junie opnuut gewys dat hulle hande vir niks verkeerd staan nie en het dié spanne hard gewerk om ’n verskil in Bethal en Secunda te maak.

Die Bethal-buurtspan het verskeie skoonmaakaksies aangepak om die dorp netjies te maak. Meer as 220 sakke vol vullis en gras is gedurende hierdie onderskeie aksies verwyder. Een van hierdie aksies het behels dat die hoek van Eeufees- en Damwalstraat skoongemaak is. Hierdie hoek dien as een van die ingange van die dorp en die span het weerskante van dié pad skoongemaak en vullis verwyder. Die span het ook die gras rondom die DBV-geboue gesny aangesien dié area jaarliks deur brandstigters bedreig word. Die span het ’n veiligheidstrook rondom die gebou gesny en enige materiale wat gebruik kan word om ’n brand aan te help, verwyder.

Dié span het ook gras gesny langs die N17 en by die plaaslike polisiestasie. ’n Inwoner van die plotte in Festensteinlaan het ook versoek dat die span moet help om die lang gras in hierdie straat te sny. Die span het ook die area oorkant die nuwe Platõ-koffiewinkel opgeruim en takke verwyder voor die amptelike opening van hierdie besigheid.

Daar is ook slaggate in ’n deel van Tsibitso Sibanyni- en Van Riebeeck-straat gevul. Dié aksie is in samewerking met inwoners aangepak. Inwoners het vir die koue asfalt betaal en die AfriForum-buurtspan het die werk teen geen koste verrig. Meer as 60 sakkies koue asfalt is tydens die aksie gebruik. AfriForum se Bethal-tak het ook verskeie strate geteiken en kort termyn verligting gebied deur doloriet in die strate in te ry om slaggate te herstel. Meer as 23 ton doloriet is tydens dié aksie gebruik.

“Daar is byna geen doeltreffende dienslewering oor vir inwoners in Bethal nie. Die buurtspan het inderdaad die dorp se enigste hoop geword. Alhoewel die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit deesdae iets doen word ons nie geflous deur die politieke speletjies voor die opkomende verkiesing nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld.

In Secunda het die Teks-buurtspan meer as 600 sakke vullis verwyder gedurende hul verskeie skoonmaakaksies in Junie. Gedurende hierdie aksies is daar onder meer 26 hektaar gras gesny en die buurtspan het ook gehelp met voorbereidings vir Laerskool Secunda se TWK-bergfietswedren. Die buurtspan het ook by die Eendedam skoongemaak asook by Vaalrivier-, Munchen-, Delgoa-, en Boshoffstraat.

Die buurtspan het ook saam met die Govan Mbeki-munisipaliteit se wetstoepassers gewerk om bosslapers, wat ook na bewering ’n groepie kinders beroof het, te verwyder en die buurtspan het die vullis wat agtergelaat is opgeruim.

“Hierdie span maak daagliks ’n verskil in inwoners se lewens. Hoe vinniger ons die span kan uitbrei en laat groei hoe beter sal dit vir die gemeenskap wees. Ons kan nie net terugsit en wag vir beter dinge om te gebeur nie. Ons moet dit laat gebeur,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

Sluit aan en ondersteun jou plaaslike buurtspanne by www.wordlid.co.za

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf