AfriForum eis deursigtigheid oor nuwe staatsgesteunde satelliet-internetdiens
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie gerig waarin gedetailleerde inligting en duidelikheid versoek word oor adjunkpresident Paul Mashatile se onlangse aankondiging van die bekendstelling van BrainSAT Satellite Services, ’n Suid-Afrikaanse staatsgesteunde satelliet-internetdiens. AfriForum vra ook om die memorandum van verstandhouding onder oë te kry wat tydens ’n staatsbesoek aan Dubai, VAE, in April 2024 met Space42 en BrainSAT Technologies onderteken is.
Dit kom te midde van die Suid-Afrikaanse regering se volgehoue pogings om Elon Musk se satelliet-internetdiens, Starlink, in Suid-Afrika op grond van streng rasgebaseerde vereistes te blokkeer. AfriForum was ’n leidende stem in die stryd om die digitale kloof tussen landelike en stedelike gemeenskappe te oorbrug, met Starlink as die voor die hand liggende oplossing. Die enigste struikelblok tot op hede was die regering se rasgebaseerde wetgewing.
AfriForum het daarom deursigtigheid versoek oor die verkrygingsproses; hoe BrainSAT geïdentifiseer of gekies is; en of enige mededingende verkrygingsproses gevolg is. Die burgerregteorganisasie het ook vir afskrifte van enige versoeke om inligting (RFI’s), versoeke vir voorstelle (RFP’s), versoeke vir kwotasies (RFQ’s), tenders of boddokumente gevra.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, verskil die twee produkte hemelsbreed wat internetsnelheid betref. Terwyl SpaceX se Starlink snelhede van tussen 40 en 250 megabit per sekonde (Mbps) bied, lewer Space42 se Thuraya-4-satellietdiens ’n maksimum internetsnelheid van slegs 1 Mbps, oftewel tot 1 024 kilobit per sekonde. Starlink se dienste is ook aansienlik goedkoper as dié wat deur Space42 aangebied word.
“Starlink se internetverbindingspoed is sterk genoeg om gelyktydig deur verskeie mense gebruik te word, soos by ’n skool of ’n hele kantoor- of administratiewe gebou. Die koste kan dus versprei word, terwyl Thuraya-4 se koste individueel gedra moet word en nie op hierdie wyse gedeel kan word nie,” sê Van Zyl.
“Die enigste rede waarom die Suid-Afrikaanse regering die swakker en duurder satelliet-internetdiens kies, is omdat Space42, anders as Starlink, bereid is om aan sy rasgebaseerde vereistes te voldoen. Weereens word die regering se rasbehepte agenda bo die verbetering van Suid-Afrikaners se lewens gestel.”



