|

Amerikaanse ambassadeur sien AfriForum se streeksveiligheidsplan in aksie in Bloemfontein

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

L. Brent Bozell III, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het gister (16 November 2026) AfriForum se streeksveiligheidsentrum in Bloemfontein besoek. Die ambassadeur het hiertydens eerstehands gesien hoe dié organisasie se gemeenskapsveiligheidsplan op streeksvlak toegepas word. Bozell het in September vanjaar ook besoek afgelê by AfriForum se nasionale veiligheidsentrum in Pretoria.

AfriForum se hommeltuigvermoë word aan die ambassadeur verduidelik.

’n Demonstrasie van die Bloemfontein-streeksbeheerkamer se hommeltuig- en telekommunikasievermoë is tydens gister se besoek aan Bozell gelewer. Hierdie tegnologie word ingespan om veiligheidsinsidente te moniteer en reaksies te koördineer. Die Bloemfontein-beheerkamer opereer deurlopend, 24 per dag en sewe dae per week.

Raymond Hohls, operasionele bestuurder van AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid, en L. Brent Bozell III tydens die besoek aan AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum in Bloemfontein.

Die ambassadeur is ook ingelig oor die werksaamhede van verskeie ander komponente van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsplan in die Bloemfontein-streek, insluitende die nege buurt- en plaaswagte in dié streek en AfriForum se reaksie-eenhede wat binne die raamwerk van die wet optree. AfriForum se trauma-eenheid, wat slagoffers van plaasaanvalle en ander geweldsmisdade in landelike en stedelike gebiede ondersteun, was ook teenwoordig tydens Bozell se besoek.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die praktiese tentoonstelling van AfriForum se vermoë aan die ambassadeur noodsaaklik. “Ons wou aan die ambassadeur wys dat AfriForum nie bloot oor misdaadbekamping praat nie, maar reeds praktiese oplossings op grondvlak toepas. Deur georganiseerde gemeenskappe, moderne tegnologie en toegewyde vrywilligers maak ons reeds ’n daadwerklike bydrae tot die bevordering van gemeenskappe se veiligheid,” sê Kriel.

AfriForum se plan om ’n landwye netwerk van tegnologie-gedrewe streeksveiligheidsentrums te vestig, sowel as ’n aanbod om op die gebied van veiligheid met die Suid-Afrikaanse regering saam te werk, is reeds in Augustus vanjaar aan die Presidensie oorhandig. AfriForum wag steeds op terugvoer.

L. Brent Bozell III tydens ’n demonstrasie van die AfriForum-veiligheidstrum se beheerkamer in Bloemfontein.

“Die regering, minister van Polisie en nasionale polisiebestuur behoort georganiseerde gemeenskappe as vennote in misdaadbekamping te beskou, eerder as opponente. Ons het reeds ons hand van samewerking uitgesteek en glo dat ons veiligheidsplan ’n belangrike bydrae tot die verbeterde beveiliging van alle Suid-Afrikaners kan lewer,” sê Kriel.

AfriForum beskik tans oor meer as 178 buurt- en plaaswagte landwyd wat deur patrollies, opleiding en gekoördineerde veiligheidsoptrede gemeenskappe help beveilig.

Tydens die besoek aan die beheerkamer in Bloemfontein.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid