AfriForum en ander instellings van Solidariteit Beweging bespreek toekoms van gesondheidsorgvoorsiening tydens beraad
Oorregulering deur die regering is besig om die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van gesondheidsorg in Suid-Afrika te belemmer. Dít was een van die belangrikste gevolgtrekkings wat gemaak is tydens AfriForum se onlangse gesondheidsberaad wat die afgelope Vrydag in Centurion aangebied is. Die tema van die beraad was “Gesondheidsorg vir Afrikaners: Hoe lyk die toekoms?” Sprekers van AfriForum, Solidariteit, Akademia en Solidariteit Helpende Hand het opgetree en het kwessies bespreek soos die hoë koste van privaat gesondheidsorg, die invloed van wetgewing op die gesondheidsbedryf en die moontlikheid van Afrikaanse opleiding van gesondheidspraktisyns.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder en organiseerder van die beraad, is wisselvallige gehalte en beskikbaarheid van gesondheidsorg in die openbare sektor toenemend ’n probleem terwyl hemelhoë pryse van privaat gesondheidsorg eweneens ’n krisis is. Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het verduidelik dat lidmaatskap van mediese fondse waarskynlik gaan daal as premies aanhou styg teen die koers wat dit tans doen. Hy verduidelik dat ’n verouderende bevolking en peperduur nuwe behandelings daartoe lei dat mediese fondse se finansiële standvastigheid onder druk verkeer en dat premies gevolglik vinniger styg as inflasie.
Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het vertel hoe getallebeperkings op die opleiding van verpleegkundiges lei tot groot personeeltekorte in die bedryf. Te midde van hierdie tekorte is die opleiding van versorgers van kardinale belang, het Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, verduidelik. Dié instelling bied opleiding aan in die versorging van kwesbare persone, pasiënte en bejaardes.
Volgens Boshoff is dit moeilik om ’n selfdoen-benadering te volg in gesondheidsorg, aangesien die risiko’s en verantwoordelikheid groot is waar mense se lewens op die spel is.
“Nietemin sal gemeenskappe en privaat rolspelers maniere moet vind om gesondheidsorgvoorsiening uit te brei te midde van staatsverval en swak beleid,” sê Boshoff.
“AfriForum en die Solidariteit Beweging is daartoe verbind om oplossings te vind wat toegang tot gehalte gesondheidsorg vir Afrikaners in die toekoms sal verseker.”



