AfriForum911-reaksie-eenheid help om onwettige vuurwapen uit sirkulasie te verwyder
AfriForum911 se reaksie-eenheid in Bloemfontein het op 14 Maart vinnig opgetree ná ’n noodoproep oor ’n vrou wat vermoedelik met ’n vuurwapen op ’n perseel in Bidwellstraat, Wilgehof, gedreig is.
AfriForum911-reaksielede en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is onmiddellik na die toneel ontbied. Met aankoms, het dit aanvanklik geblyk dat die verdagte nie meer in besit van die vuurwapen is nie. Inligting van ander inwoners het egter aangedui dat die wapen moontlik op die perseel versteek is. Die reaksielede het daarna ’n deeglike soektog op die eiendom uitgevoer waarna die vuurwapen eindelik in ’n sak in ’n wendyhuis op die perseel opgespoor is.
Lede van die SAPD se Parkweg-stasie het die toneel oorgeneem en twee persone is in verband met die besit van ’n onwettige vuurwapen en medepligtigheid gearresteer.
Volgens Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein, toon hierdie voorval hoe belangrik samewerking tussen die gemeenskap, private veiligheidsinisiatiewe en wetstoepassingsagentskappe in die stryd teen misdaad is.
“Die vinnige reaksie van die AfriForum911-reaksie-eenheid span, in samewerking met gemeenskapslede wat inligting verskaf het, het daartoe gelei dat ’n onwettige vuurwapen uit sirkulasie verwyder is. Sulke optrede dra direk by tot veiliger gemeenskappe. Ons waardeer ook die samewerking van die SAPD wat die saak verder hanteer het,” sê Groenewald.
AfriForum bedank alle rolspelers en gemeenskapslede wat saamwerk om misdaad te bekamp. Die AfriForum911-reaksie-eenheid sal voortgaan om saam met wetstoepassingsagentskappe op te tree en onophoudelik teen misdaad te veg om veiliger gemeenskappe te help bou.



