AfriForum wys 700 leerders hoe om boeliegedrag met wapenrusting van God teen te staan
Sommige kinders onthou die grap, maar die kind wat die teiken daarvan was onthou die seer. Juis daarom moet leerders leer om te onderskei tussen onskuldige pret en gedrag wat iemand verneder of seermaak. Kinders moet boonop die moed hê om op te staan wanneer iemand anders se waardigheid aangetas word.
Dié boodskap was deel van AfriForum se teenboelie-aanbieding aan sowat 700 leerders van Laerskool ML Fick in Potchefstroom, Noordwes. Met Efesiërs 6 as Bybelse vertrekpunt is die wapenrusting van God gebruik om waardes soos waarheid, respek en moed aan leerders se daaglikse keuses en optrede teenoor mekaar te koppel.
Die aanbieding het beklemtoon dat elke leerder ’n rol speel in die skep van ’n skoolomgewing waar kinders veilig voel en met waardigheid behandel word. Veral omstanders se optrede kan ’n verskil maak: hulle kan saam lag, stilbly of besluit om ’n kind by te staan en boeliegedrag aan te meld.
“Om op te staan beteken nie om ander af te breek nie, maar om die moed te hê om op te tree vir dit wat reg is. Dit beteken om nié saam te lag wanneer iemand verneder word nie, om ’n kind wat uitgesluit word in te trek en om hulp te vra wanneer boeliegedrag voorkom,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram.
AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die voorkoming van boelie- en kuberboeliegedrag deur leerders te help om dié gedrag te herken, die gevolge daarvan te verstaan en verantwoordelik daarop te reageer.
Laai AfriForum se gratis teenboelieplakkate hier af. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.



