|

AfriForum-buurtspan se bouplan vir Bethal

Deur Ilze Nieuwoudt

Nagenoeg 150 km oos van Johannesburg en sowat 70 km suidoos van eMalahleni (voorheen Witbank) op die Hoëveld van Mpumalanga lê die dorpie Bethal knus ingewikkel tussen uitgestrekte landerye en plase waarop beeste doodluiters wei. Die streek is bekend vir sy landbou, steenkoolmyne en kragstasies wat elk ’n kritieke rol in die plaaslike en selfs nasionale ekonomie speel. In die nat somermaande verkleur die wêreld rondom Bethal in skakerings van groen, net om weer teen herfs omtower te word in ’n skouspel van pienk en pers kosmosse. Op die oog af lyk Bethal soos ’n oase. Die realiteit van munisipale verval het egter sy kloue in dié 146 jaar oue dorp ingeslaan.

Vrot, vrotter, Govan Mbeki-munisipaliteit …

Bethal en ander dorpe in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit wéét hoe swak munisipale bestuur sy letsels kan laat. In die munisipaliteit se jongste beskikbare prestasieverslag (vir April tot Junie 2026) is die tekortkominge duidelik. Daarin word onder meer gewys op ’n lang lys van aspekte waarin dié munisipaliteit tekortskiet.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Mpumalanga en Limpopo, wys die verslag op kwessies soos lae skuldinvordering, ’n verhoogde skuldlas en ’n agterstand op herstel- en instandhoudingswerk weens kontantvloeiprobleme. “Dit skets die beeld van ’n munisipaliteit wat nie net bloot sukkel om op bo water te hou nie, maar een wat spartel in ’n storm wat by die dag erger word,” verduidelik Bekker.

Talle aspekte van verval berus suiwer in die hande van die munisipaliteit. Tog is daar maniere waarop die gemeenskap dié verval kan teenwerk en dit reeds met sukses doen, reken hy.

AfriForum-buurtspanne: Hande wat werk en bou

Die vestiging van AfriForum-buurtspanne – voltydse of deeltydse werkspanne wat fokus op instandhouding en opknappingsprojekte  –  is ’n praktiese teenvoeter teen dié al te bekende verval.

In Bethal is dié buurtspan al ’n bekende gesig. Die span, wat verlede jaar amptelik in die lewe geroep is, het reeds in 2024 van tyd tot tyd ingespring om in hierdie dorp projekte aan te pak. Sedertdien takel Marietjie Bekker (spanleier), Themba Dladla en Bongani Dladla vir nagenoeg 15 dae van die maand die opknapping en instandhouding van hul geliefde Bethal. En met die span se opleiding in slaggatherstelwerk word daar toegesien dat hul spesialiteit tot voordeel van die dorp se motoriste en voetgangers ingespan word.

Sedert die begin van die jaar het die Bethal-buurtspan boonop reeds nagenoeg 700 sakke asfalt – oftewel sowat 17,5 ton asfalt – gebruik om slaggate in die dorp te herstel.

En terwyl die munisipaliteit self erken dat hy, weens ’n tekort aan materiaal, nie sy eie doelwitte vir die instandhouding van teerpaaie kan haal nie, maak AfriForum se Bethal-tak ’n ware “gemeenskapsplan”. Deur samewerking met plaaslike ondernemings, skole en inwoners kan die herstel van slaggate in Bethal nou met selfs meer mening aangepak word, verduidelik Bekker. “Die plan is eenvoudig: Die gemeenskap gee die materiaal en die AfriForum-buurtspan gee die kennis en gewillige hande vir die herstel van slaggate.”

Laerskool Marietjie van Niekerk, ’n plaaslike laerskool, het hierdie geleentheid intussen met ope arms aangegryp en ’n fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur om borgskappe vir asfalt te bekom vir die herstel van strate rondom dié skool. Belangstellendes kan asfalt teen R80 per sak borg. Die mikpunt is om uiteindelik fondse vir 500 sakke op dié manier vir die herstelprojek in te samel, terwyl AfriForum se buurtspan die herstelwerk gratis sal takel.

Benewens die herstel van slaggate pak die Bethal-buurtspan ook deurlopend projekte aan wat die voorkoms van Bethal verbeter, soos vullisopruiming en die instandhouding van onder meer sypaadjies in dié dorp. Sedert die begin van die jaar het dié span reeds nagenoeg 20 hekaar gras (op veral sypaadjies) gesny, sowat 400 sakke vullis opgeruim en ’n bykomende sewe bakkievragte gras en ander afval weggery.

Die span se hande staan skynbaar vir niks verkeerd nie, en oor waarom sy juis dié werk doen, stel die buurtspanleier, Marietjie, dit duidelik: “Ek doen dit om ’n verskil in mense se lewe te maak, veral omdat ons plaaslike munisipaliteit niks doen nie. Ek is ’n trotse Bethaller en dit maak my so trots om te sien wat ons bereik, hoe die gemeenskap die verskil wat ons maak werklik raaksien en ons ook erkenning gee vir die werk wat gedoen word.”

Bekker som dit treffend op: “AfriForum het reeds die afgelope paar jaar bewys dat Bethal een van die dorpe is waar daar met harde werk ’n werklike verskil gemaak kan word. Die opsies is beperk – óf jy trek weg óf jy bly en maak ’n verskil. Ons kies om te bly en daarom moet ons ’n verskil maak!”

Raak vandag nog by AfriForum se Bethal-tak betrokke en maak sodoende ’n bydrae tot die werk wat die Bethal-buurtspan elke dag doen om te bou aan ’n beter Bethal. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf