|

Ruhan du Toit gee ’n stem aan verlies en verlange met “Pa vir Kersfees”

“Suid-Afrika het ’n held gekry. ’n Seun het sy pa verloor.”

Die wêreld onthou Wolraad Woltemade as ’n held. Maar vir sy seun was hy eenvoudig Pa. Met sy nuwe lied, “Pa vir Kersfees”, gee Ruhan du Toit ’n stem aan die persoonlike verlies agter ’n bekende heldeverhaal en aan die verlange na iemand wat geen geskenk ooit kan terugbring nie.

Die musiekvideo het gisteraand (22 Oktober 2026) sy première gehad en is op AfriForumTV en YouTube beskikbaar.

Met sy kenmerkende diep stem en aangrypende vertolking gee Ruhan lewe aan die verhaal van ’n seun se verlange na sy pa. Hoërskool Garsfontein se koor, onder leiding van Ruan Odendaal, verleen verdere emosionele diepte aan die uitvoering.

“Pa vir Kersfees” neem die luisteraar terug na die noodlottige dag in 1773 toe die skip De Jonge Thomas tydens ’n Kaapse storm in Tafelbaai gestrand het. Woltemade het op sy perd herhaaldelik die see aangedurf om drenkelinge te red – ’n heldedaad wat uiteindelik sy eie lewe geëis het.

Die lied vertel dié verhaal deur die oë van sy seun, Christiaan Ludwig Woltemade. Ruhan se vertolking plaas die fokus op die menslike verlies agter die heldedaad: ’n seun wat eenvoudig sy pa terug wil hê.

In die openingsmonoloog van die musiekvideo verwoord Ruhan dié gedagte só: “Die meeste van ons het al iemand verloor na wie ons opgekyk het. ’n Held. Daardie dag in Tafelbaai het Suid-Afrika ’n held gekry, maar Wolraad Woltemade se seun het sy pa verloor. Terwyl almal ’n held gesien het, het hy net sy pa sien verdwyn.”

’n Lied wat dadelik tot Ruhan gespreek het

Die verhaal en die emosionele betekenis van “Pa vir Kersfees” het Ruhan dadelik oorgehaal om by die projek betrokke te raak.

“Ek was nog altyd aangetrokke tot liedjies waarvan die betekenis verder strek as die letterlike woorde. Hierdie lied vertel ’n spesifieke verhaal, maar die emosie daarvan raak iets wat soveel van ons verstaan: die verlange na iemand wat jy verloor het … dit is juis daardie leemtes wat ’n mens elke dag op verskillende maniere ervaar wat hierdie lied vir my so besonders maak. Dit gee woorde aan die verlange om iemand net weer ’n keer te sien, met hulle te praat of vas te hou,” verduidelik hy.

Hoewel die titel na Kersfees verwys, strek die emosie van die lied veel verder. Deur Ruhan se stem word dit ’n persoonlike belewenis vir elkeen wat al ’n geliefde verloor het en steeds na daardie persoon verlang.

Die lied is oorspronklik deur Henry-John Williams geskryf en deur Stephan Hugo Botha rondom Woltemade en sy seun verwerk. Stephan het Ruhan genader omdat sy ryk, diep stem by die emosionele gewig van die verhaal pas.

Die musiekvideo

Die musiekvideo is by die AfriForum Teater opgeneem en deur AfriForumTV se Elrich Yssel geskep. Elrich en Stephan kombineer Ruhan se uitvoering met moderne tegnologie om die wêreld van meer as 250 jaar gelede op die skerm te herskep.

Sand, see en storms vorm die agtergrond vir Ruhan se vertolking, terwyl die verhaal van ’n seun se verlies voor die kyker ontvou.

Met “Pa vir Kersfees” bring Ruhan ’n bekende heldeverhaal opnuut na vore en gee hy woorde aan die verlange om iemand nog net een keer te sien, te hoor of vas te hou.

“Pa vir Kersfees” is vanaf vandag (23 Oktober 2026) beskikbaar op YouTube en ander musiekstromingsplatforms.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners