| | | |

AfriForum wil hervestiging van Melgisedek-inwoners na Gezina met hofaansoek stuit

AfriForum het vandag ’n dringende hofaansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring om ’n stop te sit aan die hervestiging van honderde onwettige inwoners in die berugte Melgisedek-gebou, naby die Steve Biko Akademiese-hospitaal, na ’n tydelike nedersetting in Gezina. Volgens  die burgerregteorganisasie is die beplande hervestiging na ’n oop terrein op die hoek van Nico Smith-straat en Johan Heyns-rylaan onaanvaarbaar omdat dit ’n ernstige nadelige impak op die Moot-gemeenskap kan hê. Daar is geen permanente infrastruktuur of toiletgeriewe op dié terrein nie. Die vestiging van ’n groot tydelike nedersetting in ’n gevestigde woongebied hou dus beduidende risiko’s in vir veiligheid, plaaslike infrastruktuur en die ekonomiese welstand van inwoners en ondernemings in daardie gebied. Met die hofaansoek wil AfriForum ook druk op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit uitoefen om ’n volhoubare plan vir die hervestiging daar te stel, eerder as om sy eie probleme op die inwoners van die Moot se skouers te pak.

AfriForum het met verteenwoordigers van die Melgisedek-gemeenskap gesels en volgens hulle is die gemeenskap nie bereid om na die voorgestelde terrein te skuif nie en verwelkom selfs die organisasie se hofaansoek. Hoewel hul huidige omstandighede nie ideaal is nie, hou die gemeenskap voor dat daar ten minste strukture is waarin hulle kan woon. Die voorgestelde fasiliteite in Gezina voorsien slegs tydelike infrastruktuur, wat onder meer 85 tente en 10 tydelike toilette vir ongeveer 450 mense insluit. Dit is glad nie ideaal met die huidige reënweer en die opkomende winter nie en dit is onhigiënies.

Buiten die hofaansoek, het AfriForum Woensdag ’n formele brief aan die Tshwane-metro gestuur waarin dringende antwoorde versoek word oor die redes vir die verskuiwing, asook oor die prosesse wat gevolg is voordat hierdie besluit geneem is. Die metro het nog geen terugvoer verskaf nie. Die organisasie het Donderdag ook ’n formele aanmaning aan die metro gerig waarin geëis word dat alle bedrywighede rakende die verskuiwing onmiddellik gestaak word hangende die hofaansoek. AfriForum voer aan dat die proses nie deursigtig hanteer word nie en dat die regte van beide die betrokke inwoners en die omliggende gemeenskappe in ag geneem moet word.

“Die ekonoom Milton Freidman was reg: daar is min dinge so permanent soos ’n “tydelike” regeringsprogram. Ondeurdagte projekte soos hierdie, wat sonder openbare deelname en ’n volhoubare plan deur die rampspoedige regering deurgedruk word, skep ’n teelaarde vir ’n permanente tentedorp in die hartjie van die Moot,” sê Arno Roodt, AfriForum se hoof van die noordstreek. Hy voer verder aan dat kwessies soos dié oor die hele stad heen opmerkbaar is, waaronder Plastic View in Pretoria-Oos, en tot verreikende gevolge vir die omliggende gemeenskap kan lei.

Die organisasie beklemtoon dat ’n besluit van hierdie omvang nie sonder behoorlike beplanning, konsultasie en deursigtigheid geneem kan word nie en dat ’n volhoubare plan daargestel moet word voordat die metro oorhaastige stappe doen. AfriForum sal daarom voortgaan om druk op die metro uit te oefen en al sy beskikbare hulpbronne aanwend om die regstryd namens die gemeenskap te voer.

“AfriForum doen ’n beroep op die Tshwane-metro om onmiddellik duidelikheid te verskaf oor die proses en om alle verskuiwings te staak totdat die aangeleentheid behoorlik hanteer is. Die impak op beide die inwoners wat verskuif moet word en die gemeenskap waarheen hulle moontlik verskuif word, gaan enorm wees,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder vir Pretoria.

Die burgerregteorganisasie moedig inwoners van Pretoria verder aan om die hofsaak te ondersteun en hul naam by die stryd te voeg deur hierdie onderstaande skakel te voltooi: https://www.artikels.afriforum.co.za/stop-die-melgisedek-tentedorp-in-die-moot-beskerm-ons-gemeenskap-nou/.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf