Minister moet prestasieplan volg en lisensiekaarte agt jaar laat geld, eis AfriForum

Louis Boshoff (Afrikaans)

AfriForum het vandag ’n brief aan die minister van Vervoer, Barbara Creecy, gerig om aan te dring op die implementering van die besluit om bestuurderslisensiekaarte se geldigheid na agt jaar te verleng. In die departement se jaarlikse prestasieplan vir die 2025/2026-boekjaar is daar spesifieke teikens gestel vir die infasering van lisensiekaarte wat vir agt jaar geldig is. Volgens hierdie teikens moet die besluit in die vierde kwartaal van die boekjaar (Januarie tot Maart 2026) in die parlement voorgelê word vir onderskrywing. AfriForum wys in sy brief daarop dat die boekjaar vinnig tot ’n einde kom en dat dié besluit nou geïmplementeer moet word.

AfriForum is al vir meer as vyf jaar lank besig om druk op die departement te plaas om weg te doen met die hernuwing van lisensiekaarte elke vyf jaar. Die kwessie is verlede jaar op die spits gedryf toe herhaalde probleme met die land se enigste lisensiekaartdrukker gelei het tot ’n agterstand van meer as 500 000 nuwe en hernude lisensiekaarte.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, het die departement sterk begin deur ’n beginselbesluit oor die geldigheidstydperk te neem. Daar moet egter nou toewyding aan die dag gelê word om die besluit te implementeer.

“Alhoewel daar aanduidings is dat die agterstand met die uitreiking van lisensiekaarte grootliks opgevang is, is daar steeds geen nuwe drukker aangeskaf nie en kan die huidige drukker enige dag weer onklaar raak. Sodra lisensiekaarte agt jaar geldig gemaak word, sal daar ’n tydperk van verminderde aanvraag wees waarin die toerusting en stelsels vir die druk en uitreik van lisensiekaarte opgegradeer kan word,” sê Boshoff.

AfriForum wys ook in die brief na die departement se strategiese plan vir 2025 tot 2030, asook die verslag van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Vervoer rakende die departement van Vervoer se jaarlikse begroting. Beide hierdie dokumente het ook die verlenging van die geldigheidstydperk van bestuurderslisensiekaarte binne dieselfde tydsraamwerk as teiken gestel.

“Die minste wat die minister kan doen, is om te hou by haar eie departement se beplanning,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik