| | |

1 ton teer op paaie aangewend ter voorbereiding van rugbydag

AfriForum se Bethlehem-buurtspan het op 12 Junie slaggate by die sportgronde in Reitz herstel ter voorbereiding van die groot rugbytoernooi wat die Hoërskool Reitz die opkomende naweek aanbied. Altesaam 1 000 kg teer is gebruik om die slaggate in die twee opritte na die sportgronde te herstel. Die projek is aangepak sodat daar veilige toegang vir spelers, besoekers en ondersteuners kan wees tydens die toernooi.

Benewens die herstel van die slaggate, was daar ook baie herstelwerk nodig aan die sportgronde se heinings en parkeerterreine. Verskeie plaaslike ondernemings het hande gevat en ondersteuning gebied om hierdie werk moontlik te maak.

“Hierdie projek wys weereens hoe inwoners en plaaslike rolspelers moet inspring om infrastruktuur in stand te hou waar die munisipaliteit versuim om sy verantwoordelikhede na te kom. Dit is jammer dat gemeenskappe toenemend hul eie tyd, geld en hulpbronne moet aanwend om munisipale fasiliteite bruikbaar en veilig te hou,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Die agteruitgang van sportinfrastruktuur op plattelandse dorpe het verreikende gevolge vir plaaslike gemeenskappe. Swak onderhoud van sportgronde, beskadigde paaie en vervalle fasiliteite ontmoedig die aanbied van sportbyeenkomste op dié dorpe. Dit benadeel nie net sportontwikkeling nie, maar ook die ekonomiese geleenthede vir plaaslike ondernemings. Rugby- en ander sporttoernooie lok jaarliks honderde besoekers na dorpe, wat besteding na vulstasies, restaurante, gastehuise en winkels bring. Wanneer infrastruktuur so vervalle is, word nie net hierdie geleenthede bedreig nie, maar die jongmense verloor ook toegang tot veilige en gehalte-sportfasiliteite wat noodsaaklik is vir hul ontwikkeling en sportdeelname.

“Wanneer gemeenskappe, organisasies en ondernemings saamwerk, kan ons steeds ’n verskil maak en verhoed dat die verval van ons dorpe verder versnel. AfriForum sal voortgaan om projekte aan te pak wat die gemeenskap bevoordeel en die gehalte van inwoners se leefomgewing verbeter,” sluit Ikking af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf