AfriForum se Bloemhof-buurtwag help vermeende moordenaar vastrek
AfriForum se Bloemhof-buurtwag het Vrydag saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ander sekuriteitsmaatskappye op die aanranding van ’n bejaarde vrou gereageer en daarin geslaag om haar vermeende aanvaller vas te trek.
Ná die aanvanklike reaksie het AfriForum se buurtwaglede met hul patrollies voortgegaan en saam met die ander rolspelers na die verdagte begin soek. Die verdagte is later in ’n gebied opgemerk, waarna een van AfriForum se buurtwaglede vinnig gereageer en hom opgespoor het. Die buurtwaglid het onmiddellik die SAPD ontbied, wat daarin geslaag het om die verdagte in hegtenis te neem. Volgens beskikbare inligting het die voorval omstreeks 15:00 plaasgevind. Danksy die vinnige en doeltreffende samewerking tussen die verskillende rolspelers is die verdagte omstreeks 17:00 in hegtenis geneem.
“Hierdie voorval wys weereens hoe belangrik goeie samewerking tussen die gemeenskap, buurtwagte, die polisie en ander veiligheidsrolspelers is. Ons lede se vinnige reaksie en volgehoue patrollies het daartoe bygedra dat die verdagte opgespoor kon word en aan die SAPD oorhandig is,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Stellaland.
AfriForum betuig intussen sy meegevoel met die geliefdes van die bejaarde vrou, wat later in die hospitaal aan haar beserings beswyk het.
“Dit is hartseer dat ’n lewe op só ’n gewelddadige wyse geneem is. Geen bejaarde persoon behoort in vrees te leef of só van hul waardigheid, veiligheid en uiteindelik hul lewe beroof te word nie. Ons harte gaan uit na almal wat deur hierdie sinnelose verlies geraak word,” sê Nel.
Die burgerregteorganisasie doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly en verdagte optrede onmiddellik aan die SAPD of toepaslike veiligheidsrolspelers te rapporteer. AfriForum se veiligheidstrukture ry gereeld patrollies en werk saam met die plaaslike polisie en privaat veiligheidsmaatskappye om misdadigheid in die kiem te help smoor.
Sluit vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture aan om die nodige opleiding te ontvang om jou gebied te help beskerm. Kontak Jp Nel by 081 217 1627 vir meer inligting.



