AfriForum bevraagteken staat se toewyding om gelyke geregtigheid vir alle slagoffers van misdaad te verseker
AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die slagoffers in ses sake, wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek word, waar verdagtes en beskuldigdes nou al vir jare op vrye voet is met klaarblyklik geen wilskrag van owerhede om op te tree nie. Hierdie sake sluit in klagtes van verkragting, moord en geslagsgebaseerde geweld. Dít ondanks die feit dat daar onlangs wyd berig is oor opsporings en arrestasies van hoëprofiel verdagtes wat voorgehou word as die staat se toewyding om te verseker dat almal gelyk is voor die reg en dat misdaad uitgeroei word. Die privaatvervolgingseenheid meen dat dit juis bevestig dat die staat nie alle slagoffers van misdaad as gelyk beskou nie.
’n Vrou wat in 2021 na bewering ontvoer, verkrag en later verskeie kere trompop geskiet is deur haar voormalige kêrel, Mbongiseni Welcome Zwane, is een van die slagoffers wat tans deur die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig word. Sy kruip steeds weg uit vrees dat Zwane sal terugkeer om haar dood te maak. Zwane is steeds op vrye voet al het die SAPD al sy besonderhede. Daar is ook die geval van John Dercksen, ook bekend as John Matambu, wat vermis geraak het nadat hy in 2024 saam met Thomas Frederick “Ferdi” Visser gaan visvang het. Die verbrande oorskot van die boot wat hulle gehuur het is later in Mosambiek gevind. Ten spyte van talle gerapporteerde waarnemings in Mosambiek en Suid-Afrika, asook ’n bewering dat hy in Mosambiek gearresteer is, is Visser egter steeds op vrye voet. Visser word ook gesoek in verband met ’n afsonderlike voorval van seksuele aanranding in 2015.
Verder is daar ook die saak van Helena Fairlie, wat in Desember 2022 na bewering verskeie kere met ’n skroewedraaier gesteek is deur haar voormalige lewensmaat, Gregory Wynand Kleynhans. Hoewel Kleynhans gearresteer is en in die hof verskyn het, is hy later vrygelaat en is hy steeds op vrye voet ná hy versuim het om op te daag vir sy verhoor in Oktober 2024. Die SAPD het ook al Kleynhans se besonderhede. Dan is daar ook die saak van die vermeende kinderverkragter Thulasizwe Mkhize, wat gearresteer is en borg toegestaan is ná sy eerste hofverskyning in Februarie 2023. Nadat die saak talle kere uitgestel is het Mkhize versuim om in Julie 2024 in die hof te verskyn. Dit het daartoe aanleiding gegee dat ’n lasbrief teen hom uitgereik is. Hy is steeds nie gearresteer nie.
In verwysing na korrespondensie wat aan die SAPD gestuur is sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat dit blyk dat die SAPD opgegee het en nie verdere pogings wil aanwend om verdagtes en beskuldigdes op te spoor wat hierdie misdade teen vroue en kinders gepleeg het nie. “Die SAPD se versuim om te verseker dat beskuldigdes en verdagtes gearresteer word en in die hof verskyn is ’n skokkende versaking van hul sogenaamde toewyding om die kwesbaarste groepe in die samelewing te beskerm, sê Bateman.
Bateman verwys na die onlangse verklaring van die ondersoekbeampte in die saak teen die parlementslid Fadiel Adams, wat gedurende Adams se borgaansoek aan die hof gesê het dat sy openbare kommentaar die publiek se vertroue in die SAPD ondermyn het. “Die publiek het reeds hul vertroue in wetstoepassingsowerhede en vervolgingsgesag verloor. Dit is die SAPD se gebruik van buitensporige hulpbronne in die najaag van sensitiewe, politieke sake terwyl hulle eenvoudig hul skouers optrek wanneer dit kom by vermeende verkragters en moordenaars wat arrestasie vryspring, wat bydra tot die verlies aan vertroue in die owerhede,” sê Bateman.
Die privaatvervolgingseenheid doen ’n beroep op die SAPD om ’n opdatering te gee oor die verskeie sake en te verseker dat die verdagtes en beskuldigdes voor ’n hof gebring word sodat geregtigheid vir hul beweerde slagoffers kan geskied.



