AfriForum waarsku grondeienaars teen die risiko van ’n hoë winter-veldbrandseisoen vir 2026
AfriForum doen ’n beroep op grondeienaars, boere en gemeenskappe regoor Suid-Afrika om proaktief voor te berei vir die huidige veldbrandseisoen wat tot Augustus voortduur. Dit volg ná die Nasionale Rampbestuursentrum se seisoenale risikoprofiel vir die 2026-winter wat verhoogde veldbrandgevare in groot dele van die land uitwys.
Volgens die Nasionale Rampbestuursentrum word hoë tot medium-hoë veldbrandgevaarstoestande gedurende die winter en vroeë lente in dele van Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Gauteng, Limpopo en Noordwes verwag. Bo-normale temperature, digte plantegroei en verhoogde windtoestande sal waarskynlik bydra tot ’n verhoogde risiko vir veldbrande gedurende die komende maande.
Die verslag dui verder aan dat windstormgevare steeds verhoog bly in verskeie provinsies, waaronder die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Sterk bergwinde wat kouefronte voorafgaan kan die risiko van vinnig verspreidende en vernietigende veldbrande verder verhoog.
Benewens die brandgevaar waarsku die Nasionale Rampbestuursentrum ook dat sekere gebiede gedurende die winter kwesbaar bly vir oorstromings. Dele van die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap kan plaaslike oorstromings ervaar as gevolg van intense reënval en afsnylaagdrukstelsels, selfs waar ondernormale reënval vir sommige winterreënvalgebiede voorspel word. Hierdie weerstelsels kan swaar reën, sterk winde en kitsvloede oor kort tydperke veroorsaak.
Die seisoenale vooruitsigte wys ook op die ontwikkeling van ’n El Niño-weerpatroon. Huidige voorspellings dui daarop dat El Niño-toestande teen die lente sal versterk en deur die somer sal voortduur. Histories word El Niño-toestande met warmer, droër en winderiger weer oor groot dele van Suid-Afrika geassosieer, wat die risiko van droogte en ernstige veldbrande gedurende die komende brandseisoen verhoog.
“Groot dele van Suid-Afrika het ná die goeie somerreën uitstekende plantegroei en veldtoestande ervaar. Hoewel dit goeie nuus vir weidingstoestande is, beteken dit ook dat daar nou groot hoeveelhede brandbare materiaal in landelike gebiede voorkom. In kombinasie met bo-normale temperature, sterk winde en die verwagte ontwikkeling van El Niño-toestande, is die risiko vir ernstige veldbrande later in die winter en gedurende die lente aansienlik,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.
“Grondeienaars moet voldoende voorbereidings tref deur brandstroke in stand te hou, oormatige brandbare materiaal rondom huise en infrastruktuur te verwyder, seker te maak dat brandbestrydingstoerusting operasioneel is en aktief by plaaslike brandbeskermings-verenigings betrokke te raak. Vroeë voorbereiding kan die risiko om huise, vee, wild, weiding en ander waardevolle bates te verloor, aansienlik beperk.”
AfriForum moedig inwoners, boere en landelike gemeenskappe aan om weerwaarskuwings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens te volg en voorkomende maatreëls te implementeer voordat die piek van die veldbrandseisoen aanbreek.



