AfriForum verwelkom Steenhuisen-skuif
AfriForum verwelkom die besluit om John Steenhuisen se termyn as minister van Landbou kort te knip. Die burgerregteorganisasie is optimisties dat die aanstelling van Willie Aucamp, huidige Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, ’n positiewe skuif is om die bek-en-klouseerkrisis, wat tot dusver swak bestuur is, te beredder en werklike oplossings vir die landbousektor te bewerkstellig.
Volgens Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, het die departement se hantering van die bek-en-klouseerkrisis tot dusver nie veel vrugte afgewerp nie.
“Ernstige foute is begaan in ’n tyd waarin dié departement na boere se belange moes omsien. Aucamp het egter nou die geleentheid om die kastaiings uit die vuur te krap. Hy moet nou die staat se onsuksesvolle sentralistiese benadering in veral die hantering van die bek-en-klouseerkrisis teenwerk en die afwenteling van verantwoordelikhede na boere self aanmoedig en bewerkstellig,” verduidelik De Klerk.
AfriForum hou vol dat ’n versterkte benadering tot bek-en-klouseer nou geprioritiseer moet word. “Aucamp moet toesien dat boere – met die nodige monitering deur die departement – self entstofaankope en -toediening mag doen. Die departement moet voorts ook verseker dat genoeg entstof ingevoer word sodat alle diere die vereiste dosisse toegedien kan word en herverspreiding van die siekte verhoed kan word,” benadruk De Klerk.
Benewens die onmiddellike behoefte aan sterk optrede te midde van die huidige krisis, behoort Aucamp se departement ook die volgende te prioritiseer: die heropbou en uitbreiding van plaaslike entstofvervaardigingsvermoë; en die substantiewe versterking van staatsveeartsenydienste om onder meer doeltreffende siektebeheer te verseker.
AfriForum neem ook kennis van verskeie ander kabinetskuiwe wat vandag aangekondig is en vertrou dat dié skommelinge voordelig vir alle burgers sal wees.



