|

AfriForum veroordeel misbruik van Tshwane-metro se hulpbronne vir partypolitieke doeleindes, eis antwoorde

Klankgreep: Llewellynn Hemmens (Afrikaans)
Klankgreep: Llewellynn Hemmens (Engels)

AfriForum bestempel ’n amptelike kennisgewing van die Tshwane-metro deur die EFF-raadslid Obakeng Ramabodu vir die opruiming van die Uniegebou in Pretoria na afloop van gister se “suksesvolle openbare EEF-funksie” [sic] as ’n blatante misbruik van die metro se hulpbronne vir partypolitieke doeleindes. Die organisasie eis nou dringende antwoorde van die metro hieroor.

Ramabodu is lid van die burgemeesterskomitee vir Omgewing, Afval en Landboubestuur in die Tshwane-metro.

Die bemarkingskennisgewing word tans op sosiale media versprei in die kleure van die EFF. Die kleur en bewoording van die kennisgewing dui volgens AfriForum op ’n onbeskaamde affiliasie met die EFF.  

Die advertensie wat op sosiale media versprei is.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder vir Pretoria, is die gebruik van die metro se amptelike kommunikasiekanale en ander hulpbronne vir die bevordering van politieke partye nie net oneties nie, dit is ook onwettig. Dergelike optrede word duidelik verbied deur die Gedragskode vir Raadslede, die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture. Voorts bepaal artikel 195 van die Grondwet ook dat openbare administrasie doeltreffend, ekonomies, onpartydig en regverdig moet wees. Die gebruik van openbare hulpbronne vir partypolitieke doeleindes is dus ’n duidelike skending van hierdie beginsels.

“Die metro se hulpbronne behoort aan alle inwoners van die metro en mag onder geen omstandighede ingespan word as bemarkingsvoertuig of -platform vir politieke partye nie. ’n Duidelike onderskeid tussen die metro en partye is noodsaaklik vir goeie regering en die bevordering van openbare vertroue. Die misbruik van hulpbronne vir die EFF se gewin, vertrap egter goeie regeringspraktyke en skend die publiek se vertroue,” verduidelik Hemmens.

AfriForum hou boonop vol dat die sogenaamde opruimingsaksie wat nou kwansuis deur die metro aangepak word, volg op morsige ’n EFF-byeenkoms en derhalwe deur die party self aangepak moet word.

“Die metro se inwoners kan nie verantwoordelik gehou word vir die opruiming van partylede se rommel nie. Enige organisasie of party wat na afloop van ’n byeenkoms ’n terrein vol rommel agterlaat, moet self die verantwoordelikheid en koste van opruiming dra. Die metro se hulpbronne kan nie gerieflikheidshalwe daarvoor misbruik word nie,” waarsku Hemmens.

AfriForum eis in die lig van Ramabodu se amptelike kommunikasie dat die metro dringend antwoorde op die volgende vrae moet lewer:

  • Waarom is partypolitieke inhoud op amptelike kommunikasiekanale van die metro gepubliseer?
  • Is die gebruik van die metro se logo en kommunikasiekanale vir hierdie doel goedgekeur?
  • Wat is die koste verbonde aan die opruimingsaksie wat die metro moet dek?
  • Watter stappe sal gedoen word om te verseker dat die metro se hulpbronne nie verder blootgestel word aan misbruik vir partypolitieke doeleindes nie?

“Inwoners van die Tshwane-metro verdien ’n professionele, onpartydige en verantwoordbare administrasie wat openbare hulpbronne in die belang van alle inwoners bestuur, ongeag politieke affiliasie. Blatante misbruik van die metro se hulpbronne – veral in aanloop tot ’n munisipale verkiesing – kan nie sondermeer aanvaar word nie,” sluit Hemmens af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik