AfriForum waak steeds oor Swanton-moordsaak ná afhandeling van ondersoek
AfriForum se regspan het vandag weer die hofverrigtinge in die moordsaak van die lugmagsersant Michael Swanton bygewoon as deel van die burgerregteorganisasie se waaksaamheidsopdrag. Die saak teen die twee beskuldigdes, Thabang Eugene Sohole en Michael Makampe, is tot 2 November uitgestel vir allokasie na die Streekhof. Die polisie se ondersoek na die moord is intussen voltooi en afgehandel.
Swanton is vanjaar op 28 Januarie in Pretoria-Noord doodgeskiet nadat hy en sy vrou na bewering deur ’n voertuig met blouligte van die pad afgetrek is. Die twee beskuldigdes het destyds opgetree as lyfwagte verbonde aan die kantoor van Douglas Maimane, gewese burgemeester van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit.
“Die voltooiing van die ondersoek is ’n belangrike stap vorentoe. AfriForum sal voortgaan om die saak deur sy waaksaamheidsopdrag te monitor om toe te sien dat die regsproses sy behoorlike verloop neem, sonder enige politieke inmenging,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.



