| | |

Interkulturele vennootskap begin met lêhoender-projek

’n Gesamentlike lêhoender-projek is vandag in Disaneng, die hoofsetel van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap wes van Mahikeng in Noordwes, van stapel gestuur. Naas die verskaffing van ’n aanvangspakket wat Boschveldhoenderkuikens, ’n hoenderhok en toebehore, tien vrugtebome en groentesaad vir ’n jaar insluit, is opleiding in hoenderboerdery aan gemeenskapslede gebied.

Hierdie landbou-ontwikkelingsprojek word deur die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi Tradisionele Raad geloods in samewerking met AfriForum, deur middel van die Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN), ’n landbou-ontwikkelingsinkubator en gesamentlike inisiatief van AfriForum en Saai. Die projek is ’n verdere tasbare uitkoms van die wedersydse erkennings-en-samewerkingsooreenkoms wat AfriForum en die gemeenskap in 2023 gesluit het.

“Hierdie projek het die potensiaal om ’n  volhoubare inkomste binne ons gemeenskap te genereer, en skep ook die geleentheid vir gemeenskapslede om kennis van pluimveeboerdery op te doen wat hulle oor die lang termyn tot voordeel sal strek. Dit is vir ons ’n voorreg om saam met AfriForum te werk aan ’n projek wat ’n positiewe uitwerking op ons gemeenskap sal hê,” sê Kgosi Mogakolodi Masibi, Kgosi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi en voorsitter van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi Tradisionele Raad.

“Dit is ’n voorreg en ’n plesier vir AfriForum om saam met die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-gemeenskap aan hierdie landbou-ontwikkelingsprojek te werk. Dit is een klein tree in die lang proses om hierdie gemeenskap se selfstandigheid en voorspoed te bevorder. Hierdie nederige projek dien as nog ’n voorbeeld van die positiewe uitwerking wat uit samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe voortspruit. ’n Netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar wedersyds ondersteun, gegrond op die beginsels van wedersydse erkenning en respek, skep stadig maar seker ’n bemagtigende omgewing wat gemeenskappe in staat stel om hulself te help om te kan gedy,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

“Ons vertrou dat hierdie projek ook ander rolspelers uit die privaat- en openbare sektor sal inspireer om by gemeenskapsontwikkelinginisiatiewe soos hierdie betrokke te raak,” sluit Kgosi Masibi af.

AfriForum en die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi het in September 2024 gesamentlik Setswana-verwelkomingsborde opgerig om gemeenskapslede en reisigers in die gemeenskap se gebied te verwelkom.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners