Stryd vir geregtigheid: Wanneer geregtigheid nie net ’n woord is nie
Wat gebeur wanneer ’n saak nie deur die staat vervolg word nie? Wie tree dan op namens mense wat voel dat geregtigheid hulle ontwyk? En wat behels privaat vervolging werklik?
Dit is van die vrae wat sentraal staan in Stryd vir geregtigheid, ְ’n nuwe reeks wat deur AfriForumTV vervaardig is en wat kykers ’n blik agter die skerms van AfriForum se privaatvervolgingseenheid gee.
Die reeks volg adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en sy kollegas terwyl hulle terugkyk na van die sake waarby die eenheid betrokke was. Deur onderhoude, gesprekke met die regsverteenwoordigers wat aan die sake gewerk het en oorspronklike beeldmateriaal, word kykers ’n beter begrip gegee van wat privaat vervolging behels en waarom dit ’n rol binne die Suid-Afrikaanse regstelsel kan speel.
Vir Nel het hierdie werk in 2017 ’n nuwe hoofstuk begin. Nadat hy as staatsaanklaer bedank het, het hy op 1 Februarie 2017 as hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangesluit. Sedertdien het die eenheid betrokke geraak by sake waarin families en individue hulle tot die eenheid gewend het nadat hulle van mening was dat hul sake nie verder deur die gewone vervolgingsproses geneem word nie.
Stryd vir geregtigheid bring van hierdie sake na die skerm.
Ses sake. Ses stories. Een gemeenskaplike vraag.
Elke episode fokus op ’n ander saak en die mense wat daardeur geraak is. Die stories verskil, maar almal plaas die vraag oor toegang tot geregtigheid en die vervolgingsproses op die voorgrond.
Episode 1: Alexis Bizos
Die eerste episode kyk terug na die aanrandingsaak van Alexis Bizos, seun van die bekende menseregteprokureur adv. George Bizos.
Bizos se vervreemde vrou, Monique van Oosterhout, het in haar getuienis beskryf hoe die beskuldigde haar na bewering in die gesig geslaan, rondgestamp en teen ’n boekrak gegooi het.
Die episode bied ook ’n blik op Gerrie Nel se eerste jare by AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die pad wat hom uiteindelik daarheen gelei het.
Episode 2: Die saak van Solomon Nengwane
Episode twee fokus op die tragiese dood van Solomon, oftewel Solly, Nengwane wat in 2006 in aanhouding oorlede is.
Adv. Gerrie Nel tree namens Nengwane se familie in die ondersoek op. Die ondersoek fokus onder meer op agt senior polisiebeamptes onder wie se toesig Nengwane was.
Die saak plaas belangrike vrae oor aanspreeklikheid en die verantwoordelikheid van diegene in gesagsposisies op die voorgrond.
Episode 3: Die Bergview-saak
In die derde episode word die saak rondom die voormalige Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, Fundile Gade, ondersoek.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het AfriForum se privaatvervolgingseenheid meegedeel dat Gade nie vervolg sou word ná sy optrede tydens die Bergview-saak nie.
Gade het na bewering Jaco Pieterse, voormalige skoolhoof van Bergview College, in die openbaar valslik as ’n verdagte in die verkragting van ’n minderjarige geïdentifiseer. Klagtes van crimen injuria, intimidasie en die oortreding van die Wet op Kubermisdade is teen hom gelê.
Die episode ondersoek die gebeure en die regsproses wat daarop gevolg het.
Episode 4: Nthabiseng Sebothoma
Episode vier fokus op die aanrandingsaak van Nthabiseng Sebothoma teen Irvin Thabo Ngobeni.
Sebothoma het die privaatvervolgingseenheid genader nadat sy van mening was dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie haar saak behoorlik ondersoek het nie en die Nasionale Vervolgingsgesag aangedui het dat Ngobeni nie vervolg sou word nie.
Die saak word deur adv. Phyllis Vorster hanteer en bied kykers ’n verdere blik op die proses wat gevolg word wanneer ’n individu hom of haar tot privaat vervolging wend.
Episode 5: Die dood van Patrick Jewell
In episode vyf word die verhaal van Patrick Jewell vertel.
Jewell is in 2021 in ’n motorongeluk oorlede wat volgens die saakbeskrywing veroorsaak is deur ’n 16-jarige seun wat met sy pa se voertuig gery het. Die bestuurder se pa was ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se BBP-beskermingseenheid.
Jewell se dogter, Jacky, het haar tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend nadat sy van mening was dat die polisie se ondersoek na haar pa se dood nie behoorlik voortgesit is nie.
Die episode wys hoe ’n familie se soeke na antwoorde en aanspreeklikheid hulle uiteindelik by die privaatvervolgingseenheid uitgebring het.
Episode 6: Leon Santos Conga
Die laaste episode fokus op die saak van Leon Santos Conga, ’n voormalige stafsersant in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
Conga is skuldig bevind aan verkragting nadat hy versuim het om sy MIV-status aan Antoinette Ndishishi bekend te maak. Ndishishi is daarna ook met die virus besmet.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die saak voor die hof gebring. Die episode sluit die reeks af met ’n saak wat die ernstige gevolge van ’n individu se optrede en die rol van die regstelsel in die aanspreek van sulke gedrag beklemtoon.
Meer as net ’n regsreeks
Stryd vir geregtigheid probeer nie bloot vertel wat in ’n hofsaal gebeur nie. Dit gee kykers die geleentheid om die mense, ondersoeke en regsprosesse agter sommige van hierdie sake beter te verstaan.
Privaat vervolging is vir baie mense ’n onbekende begrip. Die reeks poog daarom om die proses meer verstaanbaar te maak en te wys waarom mense hulle tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid wend.
Deur die stemme van Adv. Gerrie Nel en die kollegas wat saam met hom aan hierdie sake gewerk het, kry kykers ’n unieke blik op die uitdagings wat met sulke sake gepaardgaan. Die beeldmateriaal uit die onderskeie sake voeg verder konteks by en bring die stories na die skerm.
Uiteindelik gaan Stryd vir geregtigheid oor die beginsel dat die reg toegepas moet word en dat mense wat die wet oortree, binne die raamwerk van die regstelsel aanspreeklik gehou moet word.
Kyk Stryd vir geregtigheid gratis
Al ses episodes van Stryd vir geregtigheid is gratis beskikbaar op AfriForumTV, ’n Afrikaanse stroomdiens.
Stryd vir geregtigheid nooi kykers om verder te kyk as die opskrifte en om die stories agter die sake te leer ken – en om self te ontdek wat dit beteken om vir geregtigheid te stry.
Leandra Enslin, vervaardiger van Stryd vir geregtigheid sê “Geregtigheid is een van die belangrikste ideale in ons samelewing. Dit is waarna ons streef om ‘n regverdige en gelyke wêreld te skep. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het my opnuut laat besef dat geregtigheid gaan nie net oor wette nie. Dit gaan ook oor hoe mense mekaar behandel. Dit leef in regverdigheid, respek en die moed om op te staan wanneer iets verkeerd is en dit moet enduit volgehou word. In die eerste episode van die reeks vertel adv. Nel dat die eenheid gesamentlik beskik oor meer as 280 jaar se ondervinding in die strafreg. Ons hoor ook dat daar niks verkeerd is met ons reg nie, die probleem is die uitvoering daarvan. Ek sien uit daarna om meer van dié sukses stories deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid met ons kykers te deel en ook verhale en anekdotes van advokaat Gerrie Nel self.”




