Só stuit vier AfriForum-buurtspanne verval in Pretoria
Staatsverval in Pretoria het ’n kritieke punt bereik wat gemeenskappe met geen ander keuse gelaat het as om self die vermoë te skep om ’n beter toekoms te bou nie. Dít is wat AfriForum se vier buurtspanne in hierdie stad, wat as een van Suid-Afrika se hoofstede ’n baken vir die land behoort te wees, die afgelope paar jaar doen.
Terwyl die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit versuim om volhoubaar munisipale dienslewering te bied dien AfriForum se Centurion-, Groter Pretoria-Oos, Groter Moot- en Noord van die Berg-buurtspanne die afgelope nege maande as bewys dat inwoners nie aan die mislukkings van munisipaliteite uitgelewer is nie.

Hierdie AfriForum-buurtspanne is toegerus om bykans elke taak wat oor hul pad kom, te takel. Trekkers, grassnyers en bossiekappers word daagliks aangewend om dele van die noorde tot die ooste van Pretoria en selfs Centurion in stand te hou. Sedert die begin van die jaar is daar gesamentlik ongeveer 400,9 ha gras in hierdie gebiede gesny. Dit staan gelyk aan die oppervlakte van sowat 560 rugbyvelde.
Met die vier spanne, wat gesamentlik uit meer as 50 voltydse lede bestaan, is 34 ton teer al vanjaar aangewend om slaggate te herstel en 805 liter verf om onder meer padtekens oor te verf. Met dié hoeveelheid verf kan ongeveer 24 gemiddelde grootte huise se buitemure geverf word.
Vullisverwydering staan ook aan die voorpunt van AfriForum en sy buurtspanne se prioriteitslys. Net onlangs het die burgerregteorganisasie ’n reuseoorwinning vir die inwoners van dié metropool beklink nadat die Hooggeregshof in Pretoria die metro se implementering van die sogenaamde stadsreinigingsheffing as onwettig en ongeldig verklaar het. Die heffing het neergekom op onwettige en onbillike dubbele belasting, veral in gevalle waar inwoners nie enige voordeel trek uit die metro se vullisverwyderingsdiens nie én gedwing word om van privaat diensverskaffers gebruik te maak.
Die buurtspanne het lank voor dié hofoorwinning hul aandag toegespits op die behoorlike verwydering en verwerking van vullis en herwinbare materiale. In die eerste nege maande van die jaar het dié spanne reeds altesaam 8 350 sakke vullis opgetel en verwyder – bykans 7 500 hiervan in Centurion. Dié buurtspan het verder ongeveer 162,7 ton herwinbare materiaal ingesamel en verwerk. Die spanne het gesamentlik oor die afgelope nege maande ongeveer 22,9 ton in verskeie soorte vullis in hul onderskeie gebiede verwyder.
Tans is hierdie Pretoriase-buurtspanne steeds hard aan die werk om gebiede op te knap, insluitend plaaslike polisiestasies. Die Centurion-buurtspan is al die afgelope drie weke besig om die Wierdabrug-polisiestasie se omheining skoon te maak en oor te verf, asook indringerplante uit te haal en grasperke skoon te sny. Dit terwyl die Groter Moot-buurtspan die Heldeakker-begraafplaas skoonmaak ter voorbereiding vir Heldedag wat jaarliks op 10 Oktober gevier word.


“AfriForum is bekend vir sy vrywilligers wat hul eie tyd opoffer om hul woonbuurte skoon te hou. Daar is egter baie meer werk as wat hierdie mense kan behartig en dus het AfriForum toegewyde buurtspanne op die been gebring om te help om dié omvangryke take aan te pak. Ons het met klein spanne begin, maar dit het vinnig gegroei tot veelsydige werksgroepe wat AfriForum die vermoë gee om die gemeenskap selfs beter te dien en munisipale verval te bekamp,” sê Sampie Steinberg, hoof van Gemeenskapstrukture by AfriForum.
Volgens Steinberg is AfriForum se buurtspanne nie net ’n voordeel vir die gemeenskappe wat deur hul werk bedien word nie, maar ook ’n waardevolle werkskeppingsprojek.
“Die buurtspanne is ’n bemagtigingsprojek waardeur AfriForum werk vir Afrikaners skep wat nie ander geleenthede kry nie. Buurtspanlede leer vaardighede aan en verdien ’n inkomste en sodoende help ons Afrikaners om op hul eie voete te staan, terwyl hulle hul gemeenskappe dien,” sluit hy af.



