AfriForum onderhandel met rolspelers om verkryging van BEK-entstowwe privaat te hanteer
AfriForum onderhandel tans met kundige rolspelers om te help toesien dat die privaat sektor die verkryging, verkope en verspreiding van bek-en-klouseer (BEK)-entstowwe kan onderneem. Dié strategie vorm deel van die organisasie se teenvoeter vir die regering se oormatige en onverantwoordelike sentralisering van mag ten opsigte van die nasionale BEK-krisis wat ten koste van die landboubedryf en verbruikers toegepas word.
In ’n prokureursbrief wat AfriForum aan John Steenhuisen, minister van Landbou, gestuur het, stel die burgerregteorganisasie dit duidelik dat hoewel die Wet op Dieresiektes 1984 BEK as ’n staatsbeheerde siekte lys, dit nie verstaan moet word as ’n siekte wat die staat alleenlik, en dus sonder die betrokkenheid van die privaat sektor, moet hanteer nie.
AfriForum benadruk dat die staat nie oor die vermoë beskik om die reusetaak van die verkryging en inenting van nagenoeg 28 miljoen dosisse entstof sonder die hulp van die privaat sektor te doen nie. Die organisasie dring dus daarop aan dat privaat ondernemings en instellings soos AfriForum ook toegelaat moet word om die verkryging en verspreiding van entstowwe te onderneem. Verder voer AfriForum aan dat ’n inentingsstrategie wat deur die regering aangeneem word, ook die inenting van diere deur privaat veeartse en bekwame boere moet toelaat.
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, is die staat se monopolie op die toediening van BEK-entstof deur staatsveeartse en die staat se veeartsenykundige tegnici irrasioneel. “Daar is hoogstens 500 staatsveeartse en ’n onbekende aantal tegnici beskikbaar om die beoogde 28 miljoen inentings binne net ses maande te doen – dié reuseprojek is gewoon onhaalbaar sonder die betrokkenheid van die privaat sektor. Dit is gedoem om te misluk indien die privaat sektor nie die reg kry om ook in te gryp nie,” verduidelik hy.
Om derhalwe die krisis te beredder, hou AfriForum vol dat Steenhuisen in die samestelling van regulasies vir die hantering van BEK die verantwoordelike besluit moet maak en die privaat sektor en boere die reg gee om self sekere take in die hantering van die krisis te hanteer.
Benewens die betrokkenheid van die privaat sektor in die verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe, voer AfriForum aan behoort die minister duidelikheid te gee oor die plasing van ingeënte diere of diere wat met BEK gediagnoseer is onder kwarantyn. Sekere regeringsbronne voer aan dat sodanige diere vir ’n jaar lank onder kwarantyn geplaas moet word. “Om kuddes vir ’n jaar lank onder kwarantyn te plaas, sal boere finansieel ruïneer en die bedryf ongekende skade berokken, ondanks die feit dat daar geen logiese rede vir ’n jaarlange kwarantyn is nie,” beklemtoon De Klerk.
“Dit is in die belang van boere én verbruikers dat privaat instellings en ondernemings help om dié krisis wat in hierdie stadium dreig om die landboubedryf op sy knieë te dwing, af te weer. Om nou vas te klou aan mag is in niemand se belang nie,” sluit De Klerk af.
AfriForum het aan Steenhuisen vyf dae gegee om op die organisasie se eise te reageer.



