Petrol, diesel, brandstof, fuel
|

AfriForum verwelkom besnoeiing van brandstofheffing

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom Enoch Godongwana, die minister van Finansies, se aankondiging dat die regering die brandstofheffing gaan verminder om die impak van stygende oliepryse te help versag namate die konflik in die Midde-Ooste voortduur. AfriForum het vroeër vandeesmaand ’n brief aan die minister geskryf waarin hy versoek word om verligting aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en verbruikers te bring deur die brandstofheffing te verlaag in plaas van die beplande verhoging wat in Februarie aangekondig is.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, demonstreer die minister se welkome aankondiging weereens die impak van openbare drukveldtogte, soos dié deur AfriForum, in die bevordering van beleide in belang van die ekonomie en die publiek. “Die volgende ding wat ons graag wil sien, is dat die regering die nodige deursigtigheid bied oor die status van die land se strategiese brandstofreserwes,” gaan Van Zyl voort.

Net ’n week gelede het AfriForum ook ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie gestuur waarin gedetailleerde inligting en duidelikheid oor die land se strategiese brandstofreserwes versoek is. Dit volg te midde van wydverspreide onsekerheid oor die status van hierdie reserwes, waarvan die verkoop die onderwerp van groot kontroversie in 2015/2016 was.

“AfriForum het die syfers ontleed en bevind dat ongeveer een derde van die prys wat jy by die pomp betaal, na belasting en heffings gaan. Die organisasie glo dat daar ’n breër gesprek gevoer moet word oor die permanente verlaging van hierdie oormatige belastinglas op die ekonomie en verbruikers,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf