| | | |

AfriForum eis dringende optrede oor Potch-rioolkrisis wat wéér kopuitsteek

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het gister ’n dringende skrywe aan die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die ernstige en volgehoue rioolstorting by die Costalot- en Njala Park- woonkomplekse langs Paryslaan in Bailiepark. Inwoners sukkel al langer as ’n jaar met riool wat in die komplekse opdam en selfs in hul huise en erwe instoot as gevolg van ’n verstopte en vervalle rioollyn. AfriForum het al in 2024 hierdie probleem aan die munisipaliteit geopper waarna ’n kontrakteur die pyplyn oopgeblaas het. Die probleem was daarna vir ’n tydperk opgelos, maar weens die verouderde pyplyn stoot die riool dus nou weer in die komplekse op. Ten spyte van die munisipaliteit se herhaalde beloftes om die infrastruktuur te vervang, het geen daadwerklike optrede nog plaasgevind nie.

In die jongste brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om ’n duidelike tydlyn vir die vervanging van die rioollyn te verskaf; onmiddellike ingrypings te doen om verdere riooloorstromings te voorkom; ’n opgedateerde lys van noodnommers en na-ure kontakbesonderhede beskikbaar te stel; en volhoubare instandhouding van die infrastruktuur te verseker.

“Hierdie situasie is onaanvaarbaar en hou ’n ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko vir inwoners in. Dit is ’n direkte gevolg van die munisipaliteit se versuim om basiese dienste behoorlik te lewer,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum in die Mooirivier.

AfriForum wys daarop dat die huidige toestand ook ’n skending is van verskeie wetlike bepalings, insluitend die Grondwet, wat bepaal dat munisipaliteite dienste op ’n volhoubare wyse moet lewer en dat elke persoon die reg het op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie.

Die organisasie het ook ernstige kommer uitgespreek oor die munisipaliteit se gebrekkige kommunikasie. Inwoners van Potchefstroom sukkel geweldig om probleme aan te meld, aangesien oproepe na munisipale kantore onbeantwoord bly.

“Wanneer inwoners nie eers probleme kan rapporteer nie, vererger dit reeds kritieke situasies soos hierdie rioolkrisis. Dit dui op ’n totale ineenstorting van basiese dienslewering en aanspreeklikheid,” sê Pretorius verder.

AfriForum waarsku dat, indien die munisipaliteit versuim om dringend op te tree, die organisasie verdere stappe sal oorweeg om inwoners se regte te beskerm.

“Daar kan nie van inwoners verwag word om onder sulke onmenslike omstandighede te leef as gevolg van voortdurende wanbestuur nie,” sê Douglas Bourn, AfriForum se voorsitter vir die Potchefstroom-tak.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak- en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf