| | |

AfriForum en die Makholokoe begin gekombineerde hoender- en groenteprojek en sluit ooreenkoms

AfriForum en die Makholokoe-kultuurgemeenskap het vandag ’n gesamentlike lêhoender- en groenteprojek in Mahaseng, die hoofsetel van die Makholokoe-kultuurgemeenskap, in die Harrismith-omgewing in die Vrystaat van stapel gestuur. Die projek word afgeskop met ’n beginpakket wat vier weke oue Boschveld-kuikens, ’n hoenderhok met toebehore, groentesaad vir ’n jaar en tien vrugtebome insluit. Gemeenskapslede is ook met opleiding in pluimveeboerdery bemagtig. AfriForum en die Makholokoe het tydens dié geleentheid ook ’n wedersydse erkenning- en samewerkingsooreenkoms gesluit.

Hierdie landbou-ontwikkelingsprojek word deur die Makholokoe Koninklike Familie in vennootskap met AfriForum begin deur middel van die Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN), ’n landbou-ontwikkelingsinkubator en gesamentlike inisiatief van AfriForum en Saai.

“Hierdie projek het die potensiaal om volhoubare inkomste binne ons gemeenskap te genereer en skep die geleentheid vir gemeenskapslede om kennis van pluimveeboerdery op te doen wat hulle oor die lang termyn tot voordeel sal strek. Dit is vir ons ’n voorreg om saam met AfriForum te werk, en ons is dankbaar dat ons ons verhouding vandag deur middel van hierdie ooreenkoms geformaliseer het,” sê morena e moholo Paulos Moloi, morena e moholo (hoof- tradisionele leier) van die Makholokoe-kultuurgemeenskap.

“Dit is ’n groot voorreg vir AfriForum om ’n vennoot van die Makholokoe te wees. Dit dien as bewys dat ’n mooi toekoms vir die kinders van ons land moontlik is wanneer kultuurgemeenskappe op grond van wedersydse erkenning en respek saamwerk om gemeenskappe in staat te stel om hul lewensomstandighede te verbeter en meer selfstandig te word. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van Afgri Retail Harrismith, wat die projek help moontlik maak,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Ons voel geëer dat ons vandag ’n wedersydse erkenning- en samewerkingsooreenkoms met die Makholokoe kon sluit. ’n Netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar wedersyds ondersteun, gegrond op die beginsels van wedersydse erkenning en respek, skep stadig maar seker ’n bemagtigende omgewing wat gemeenskappe in staat stel om hulself te help om te kan gedy. Ons hoop dat hierdie projek ook ander rolspelers uit die private en openbare sektore sal inspireer om by volhoubare gemeenskapsontwikkeling betrokke te raak,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners