| | |

Deursigtigheid geëis oor Rand Water se R800 miljoen Zanzibar-belegging terwyl watervoorsiening in Gauteng onder druk is

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

AfriForum het ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by Rand Water ingedien, waarin gedetailleerde inligting oor sy vennootskap met die Zanzibar Waterowerheid en die gepaardgaande R800 miljoen-belegging versoek word. Hierdie stap volg op groeiende kommer oor die projek in die konteks van Gauteng se voortdurende waterinfrastruktuurkrisis, waar die handhawing van betroubare grootmaatwatervoorsiening onder toenemende druk bly.

Alhoewel Rand Water by regte is om sekondêre aktiwiteite soos hierdie te onderneem, is dit nodig om te bepaal of hierdie projek tans geregverdig en gepas is. Die omvang van die belegging, die oorgrens aard daarvan en die huidige plaaslike uitdagings in waterinfrastruktuur vereis duidelike, bewysgebaseerde regverdiging om te verseker dat Rand Water se primêre mandaat om grootmaatwatervoorsiening in Gauteng te verseker, nie in die gedrang kom nie.

AfriForum het die versoek vir inligting gerig om verskeie sleutelrisiko’s wat met die projek verband hou, te evalueer. Dit sluit in die toewysing van R800 miljoen in openbare hulpbronne aan ’n buitelandse inisiatief terwyl binnelandse infrastruktuur onder druk is, sowel as die afwesigheid van ’n geopenbaarde sakeplan, finansiële model of geprojekteerde opbrengs op belegging. Daar is ook kommer oor potensiële finansiële risiko’s, insluitend valutablootstelling, onsekerheid oor inkomste-invordering en soewereine risiko. Daarbenewens is dit nodig om te bepaal of die projek Rand Water se operasionele kapasiteit, kapitaaluitgaweprogram en sy vermoë om sy kernmandaat te vervul, kan beïnvloed.

“Net omdat Rand Water se buitelandse uitbreiding wettiglik toelaatbaar is, beteken dit nie dat dit in die beste belang van die inwoners van Gauteng is nie. In ’n tyd wanneer watersekerheid reeds onder druk is, moet elke belangrike finansiële en operasionele besluit bo verdenking wees en deur duidelike bewyse ondersteun word,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum vertrou dat Rand Water op ’n deursigtige en tydige wyse op hierdie versoek sal reageer. Sodra die aangevraagde inligting ontvang is, sal dit noukeurig ondersoek word om te bepaal of verdere stappe nodig is.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf