| |

AfriForum se Paarl-buurtwag help met opsporing van gekaapte voertuig

Die vinnige optrede van AfriForum se Paarl-buurtwag en die gebruik van die buurtwag se nuwe radionetwerk het onlangs tot die opsporing van ’n gekaapte voertuig in dié Bolandse dorp gelei. Altesaam sewe lede van dié buurtwag is ontplooi saam met drie voertuie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Paarl-Oos-kantoor en een voertuig van die Paarl-polisie ná ’n noodoproep teen omstreeks 17:10 op 23 Julie ontvang is oor die kaping van ’n voertuig op die Bodal-pad.

Volgens ooggetuies het die verdagtes beheer oor die gekaapte voertuig verloor, waarna dit teen ’n randsteen tot stilstand gekom het. Drie verdagtes het ná die botsing uit die voertuig gespring en die terrein van Laerskool Bodal binnegehardloop. AfriForum se buurtwaglede het saam met die Paarl-Oos-polisie die skoolterrein en omliggende gebied gefynkam opsoek na die verdagtes.

Die eienaar van die voertuig het later op die toneel opgedaag en bevestig dat die verdagtes hom tydens die kaping van kledingstukke beroof het.

AfriForum se Paarl-buurtwag het sy waardering uitgespreek teenoor die Paarl- en Paarl-Oos-polisie en alle rolspelers vir hul vinnige optrede en goeie samewerking.

Die saak is aan Paarl-polisie oorgedra vir verdere ondersoek.

Die nuwe radionetwerk, wat slegs die vorige dag geïnstalleer is, het ’n belangrike rol gespeel in die vinnige mobilisasie van buurtwaglede en die algehele koördinering van die operasie. Die radionetwerk het deurlopend betroubare kommunikasie verskaf, met lede wat hul bewegings en posisies in reële tyd kon deurgee. Die operasie het boonop bevestig dat die doeltreffendheid van dié netwerk aansienlik hoër is as selfoonkommunikasie.

Die suksesvolle eerste operasionele gebruik van die nuwe radionetwerk beklemtoon volgens die organisasie die belangrikheid van betroubare kommunikasie tydens noodsituasies en gemeenskapsveiligheidsoperasies.

Raak vandag by jou naaste AfriForum-takke betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid