| | |

AfriForum takel projek om historiese Sendingkerk en toerismegebied in Keimoes op te kikker

Lede van AfriForum se Keimoes-tak het op 5 Junie ’n skoonmaakprojek aangepak om die terrein waarop die historiese Sendingkerk geleë is, weer netjies en veilig te maak. Hierdie kerk in Keimoes was vir baie jare een van die dorp se bekendste toerisme-aantreklikhede en ’n belangrike deel van die plaaslike erfenis. Die kerk is in Hoofstraat reg oorkant die Waterwiel-monument geleë. Ongelukkig het die terrein oor tyd heen erg verval weens verwaarlosing, vandalisme, rommelstrooiing en onwettige besetting.

Riete, onkruid, lang gras, huisvullis en stukkende swartsakke het die terrein vervuil. Die gebied het ook mettertyd ’n toevlugsoord vir haweloses geword en ander ongewenste aktiwiteite aangetrek, wat die beeld van die dorp en besoekers se ervaring ernstig benadeel het.

Tydens die eerste fase van die projek is drie bakkievragte, oftewel 1,5 ton, bourommel, riete en huisvullis van die perseel verwyder. Daar is ook van tuinvullis, waaronder takke, blare, gras en onkruid, ontslae geraak. Die openbare toiletgeriewe langs die kerk was ook in ’n uiters swak toestand. Die taklede het ingespring om dit op te ruim.

“As die enigste openbare toiletgeriewe in die dorp is dit ’n groot bekommernis dat die fasiliteit só verwaarloos geraak het. Die gebrek aan gereelde vullisverwydering het daartoe gelei dat afval op hope opgegaar word, wat nie net onooglik is nie, maar ook ’n swak indruk op besoekers laat,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Hoewel daar reeds beduidende vordering gemaak is tydens die eerste fase van die projek, lê daar nog baie werk voor. Kobus Pool, Brandon Lindholm en John Systiba sal met die opruimings- en herstelwerk voortgaan om die terrein verder op te knap.

AfriForum se Keimoes-tak wil die gemeenskap aanmoedig om saam verantwoordelikheid vir openbare ruimtes te aanvaar. Historiese geboue en toerisme-aantreklikhede behoort beskerm te word vir toekomstige geslagte. ’n Netjiese en goedversorgde dorp dra by tot inwoners se trots en ondersteun terselfdertyd ook toerisme en plaaslike ekonomiese ontwikkeling.

Die tak doen ’n beroep op die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit om saam met die gemeenskap te werk om die perseel volhoubaar in stand te hou, gereelde vullisverwydering te verseker en die nodige aandag aan hierdie belangrike historiese terrein te gee.

“Keimoes verdien beter. Deur saam te werk kan ons ons dorp se geskiedenis bewaar, besoekers hartlik verwelkom en weer trots wees op ons openbare ruimtes,” sê Meisie Pool, voorsitter van AfriForum se Keimoes-tak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf