| |

Padongelukfonds: Meer geld gaan nie dié kranklike entiteit bybring nie

Dit is pure onsinnigheid om nóg meer geld in die Padongeluksfonds (POF) in te stort, terwyl swak bestuur reeds dié fonds tot op die rantjie van bankrotskap gedwing het. Só sê AfriForum nadat Barbara Creecy, minister van Vervoer, verlede week aangevoer het dat haar departement ’n nuwe bydraeskema vir die finansiering van dié sukkelende fonds oorweeg.

As deel van dié voorlopige planne, oorweeg die departement om ’n bykomende fooi op lisensieskywe te voeg wat jaarliks met die hernuwing van lisensies betaalbaar sal wees.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder by AfriForum, word die POF geteister deur ’n rits probleme. Die fonds het onder meer teen November verlede jaar ’n agterstand van 400 000 eise gehad. Daar is intussen geen aanduiding dat dié agterstand uitgewis is nie.

Daarbenewens is die Staande Komitee op Openbare Rekeninge (Skoor) ook besig met ’n ondersoek na die POF se bestuur, terwyl strafregtelike klagte teen Collins Letsoalo, voormalige uitvoerende hoof van die POF, aanhangig gemaak gaan word vir sy weiering om voor ’n parlementêre ondersoek te verskyn.

Die POF word tans befonds deur ’n heffing op elke liter brandstof wat verkoop word. Suid-Afrikaners wat al hoe meer van elektriese voertuie (EV) gebruik maak, het volgens Creecy meer druk op die fonds geplaas.

EV-verkope het volgens data van die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) in die eerste kwartaal van 2026 gestyg met 135% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. EV-bestuurders dra egter tot die POF by nie, maar kan steeds eise teen die fonds indien.

“Alhoewel die minister korrek is om uit te wys dat EV’s nie tans tot die fonds bydra nie, is dit ’n klein verlies aan inkomste, vergeleke met die reuseverliese wat kom weens die jare lange wanbestuur wat die fonds kenmerk. Die bykomende heffing sal boonop kan neerkom op ’n dubbele belasting op ander motoriste wat reeds as deel van die brandstofheffings tot dié fonds bydra,” sê Boshoff.

Die POF se finansies was die laaste paar jaar gereeld onder die vergrootglas en die fonds is tegnies insolvent. ’n Parlementêre ondersoek, wat in Junie verlede jaar aangekondig is, het verskeie beweerde bestuursgebreke, bedrog, wanbestuur en korrupsie in die fonds blootgelê en Creecy was genoop om die POF se raad verlede jaar te ontbind.

“Suid-Afrikaners is moeg om vir wanadministrasie, korrupsie en bedrog te betaal. Die voortdurende mislukkings van die POF kan nie net nog iets word waarvoor verbruikers ekstra moet betaal nie,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik