| | |

AfriForum-spanne gebruik 3 ton teer om reuseslaggat voor Laerskool Pretoria-Oos te herstel

AfriForum se Groter Pretoria-Oos-buurtspan het op 10 September saam met AfriForum Jeug se Tuks- en Sol-Tech-takke ’n reuseslaggat voor Laerskool Pretoria-Oos herstel. Daar is 3 ton teer gebruik om dié gat te herstel wat reeds vir byna drie maande lank verkeer vertraag en ’n gevaar vir padverbruikers ingehou het.

Die omvangryke projek is deur ’n span van 7 buurtspanlede en 10 studente aangepak. Twee voertuie is ingespan om die teer en toerusting na die terrein te vervoer. Weens die grootte van die slaggat moes ’n padroller ook gehuur word om die teer behoorlik en egalig te kompakteer. Die herstelwerk het ongeveer R20 000 beloop en die kostes is deur AfriForum se Groter Pretoria-Oos-tak gedra.

AfriForum fokus vanjaar op die welstand, veiligheid en vooruitgang van skole. Dit was daarom belangrik om dié veiligheidsrisiko, wat op Laerskool Pretoria-Oos se voorstoep was, dringend aan te pak.

“Skole is spilpunte in ons gemeenskappe en ons kan nie wag vir die regering om na ons kinders te kyk nie. Ons moet sélf inspring om slegte omstandighede te verbeter,” sê Maree van den Berg, woordvoerder van AfriForum.

“Hierdie laerskool sit op Tukkies se voorstoep en dit is baie belangrik vir die jeug om as jong volwassenes te leer om by hul gemeenskappe betrokke te raak,” sê Hanno Koster, jeugleier by AfriForum Jeug.

Jy kan ook probleme in jou gemeenskap aanpak. Besoek www.buurtspanne.co.za om ’n buurtspan in jou omgewing te bespreek.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf