AfriForum stel Groenmaand-projek ter bewaring van vetplante bekend
AfriForum vier vandeesmaand Groenmaand en vanjaar val die fokus op die bewaring van die land se ryke vetplantdiversiteit. Hoewel meer as 40% van die wêreld se sowat 10 000 vetplantspesies in Suid-Afrika voorkom, plaas die stroping van dié plante geweldige druk op die voortbestaan van verskeie spesies. Juis daarom skop AfriForum se afdelings vir Onderwysprojekte en Omgewingsake môre ’n projek ter bewaring van vetplante bekend en moedig die publiek aan om gedurende September vetplante as’t ware uit hul verknorsing te plant. Die projek sal ook aan skole bemark word.
Die bekendstelling van dié projek vind môre (16 September) by die Safari-kwekery in Pretoria plaas. Hiertydens sal die botanis Heinrich van Niekerk, ’n vetplant- en clivia-spesialis, die noodsaaklikheid van die bewaring van vetplante belig. Gaste sal ook getrakteer word op die vertoning van Vet vannie land – ’n bekroonde dokumentêr oor die vetplante van die ongenaakbare Richtersveld en die stryd om die bewaring van dié streek se plante wat weens stropery op die randjie van uitwissing staan.
Die media word uitgenooi om hierdie geleentheid by te woon:
Datum: Woensdag 16 September 2026
Tyd: 10:00–12:00
Plek: Impala-saal, Safari-tuinsentrum, Lynnwoodweg, Pretoria



