AfriForum soek dringende hofbevel teen NERSA se stilswye oor R54 miljard-fout
AfriForum het aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gedoen vir ’n dringende hofbevel teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA). Dit volg nadat 90 dae verstryk het sonder dat NERSA redes verskaf het vir sy besluit vroeër vanjaar om ’n bykomende tariefverhoging van meer as R54 miljard aan Eskom goed te keur. NERSA is wetlik verplig om dié besluit te verduidelik. NERSA het in Februarie aangekondig dat bykomende kragtariefverhogings van 8,76% vir die 2026/2027-boekjaar en 8,83% vir die 2027/2028-boekjaar vir Eskom goedgekeur is. Dié pryshersiening kom bykomend tot tariefverhogings wat reeds goedgekeur is om op te maak vir berekeningsfoute wat met die oorspronklike tariefverhogings gemaak is.
AfriForum se aansoek om ’n hofbevel volg dus na ’n hofstryd om die twee rolspelers (NERSA en Eskom) sover te kry om inligting oor hierdie berekeningsfout te openbaar en die publiek, wat direk deur die prysbepaling geraak word, ’n kans te gee om sinvol te mag kommentaar lewer. Die organisasie vra nou die hof om die saak op 14 Julie aan te hoor met die bede dat die hele besluit rakende die R54 miljard onder hersiening geneem moet word. Indien dit slaag, sal dit ongelukkig net van toepassing kan wees op die laaste jaar van die drie jaar ooreenkoms.
AfriForum het reeds op 12 Maart die eerste keer aan die reguleerder geskryf om vir die begrondingsdokument te vra, wat volgens NERSA se eie riglyne altyd deel vorm van die veeljarige tariefbepalingsaansoek (MYPD). In reaksie op die brief het NERSA laat weet dat die dokument teen 31 Maart goedgekeur sal wees, waarna AfriForum teen 2 April weer opgevolg het oor die uitkoms van die saak. Hoewel NERSA ook vir die tweede skrywe ontvangs erken het, is steeds geen volledige redes vir sy aangepaste besluit bekend nie. In die dokument moet ook aangedui word hoe die openbare deelname die proses beïnvloed het, al dan nie.
AfriForum het uiteindelik sy regspan opdrag gegee om die aangeleentheid in ’n formele brief aan NERSA te hanteer, maar die reguleerder kon weereens nie die vereiste dokument verskaf nie. NERSA het telkens om verdere uitstel versoek en aangevoer dat die wysigings aan die verslag oor die afgelope drie maande nog nie deur sy uitvoerende komitee goedgekeur is nie.
Die volledige redes vir Eskom se tariefbepaling is die brondokument vir die daaropvolgende kleinhandeltarief- en strukturele aanpassingsaansoek (ERTSA) waarin Eskom dan aansoek doen dat ’n jaar se koste van sy kliënte verhaal word en waaraan ’n openbaredeelnameproses ook gekoppel is. “Die afwesigheid vir redes van die besluit laat twyfel ontstaan oor die openbaredeelnameproses en of iemand ooit na die verbruiker, wat op die ou end alles moet betaal, luister,” verduidelik Dalena Beyers, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.
“NERSA het ’n belangrike rol om te speel om die verbruiker teen die monopolie van Eskom te beskerm, maar dis asof hulle bang is om daadwerklik op te tree,” sê Beyers verder. “En dis nie net op nasionale vlak dat NERSA buig voor die behoeftes van Eskom nie; die reguleerder skitter ook in sy afwesigheid waar inwoners onder swak munisipale elektrisiteitslewering ly. Eintlik moet NERSA elke munisipaliteit se kragvoorsieninglisensie kanselleer as hulle nie kwaliteit diens lewer nie, maar dit gebeur nêrens nie. Een swak diens hou die ander swak diens aan die gang en so ook met die terugvoering van hul mees kritiese besluit elke jaar: hoeveel geld mag Eskom vra vir die diens wat hulle lewer.”



