AfriForum en leerders van Laerskool Rayton trek superheldmantels aan in die stryd teen boeliegedrag
Die skoolterrein van Laerskool Rayton is Woensdag (24 Junie) omskep in ’n see van kleurvolle superhelde toe leerders simbolies gewys het dat hulle elkeen die vermoë het om ’n held te wees in die stryd teen boeliegedrag. AfriForum se teenboeliespan het die skool besoek om hierdie boodskap te beklemtoon en leerders aan te moedig om die moed te hê om betrokke te raak wanneer hulle sien iemand word verneder, uitgesluit of seergemaak. Dié interaktiewe aanbieding het dit duidelik gemaak dat ’n ware held iemand is wat besluit om die regte ding te doen – selfs wanneer dit moeilik is.



Volgens Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram, leef ons in ’n tyd waar mense eerder kies om onreg ongesiens te laat verbygaan. Haar aanbieding fokus egter daarop om die gevaartekens van boeliegedrag te identifiseer én leerders daarop te wys dat hulle die keuse moet uitoefen om met moed, respek en deernis op te tree wanneer hulle boeliegedrag teëkom. Dit leer ook vir kinders die vaardighede wat nodig is om in sulke gevalle ondersteuning te bied, hulp te ontbied en die situasie by ’n verantwoordelike volwassene aan te meld – want ware dapperheid is dikwels sigbaar in die klein, alledaagse keuses wat ons maak.
“Dit verg moed om op te staan vir iemand wat uitgesluit word, om ’n vriend te ondersteun wat seergemaak word of om hulp te vra wanneer jy sien iemand word geboelie. Ons wil hê leerders moet besef dat hulle nie magteloos is wanneer hulle boeliegedrag sien nie. Elke positiewe aksie, hoe klein ook al, kan ’n groot verskil maak in iemand anders se lewe,” benadruk Erasmus.
Die superheldmantels het die dag se boodskap op ’n besondere wyse versterk. Hoewel superhelde dikwels met buitengewone kragte geassosieer word, is die eienskappe wat nodig is om teen boeliegedrag op te staan binne elke leerder se bereik, meen Erasmus. “Eienskappe soos vriendelikheid, respek, empatie en die bereidwilligheid om op te tree wanneer iemand hulp nodig het, is van die belangrikste tekens van ’n superheld wat teen boeliegedrag opstaan,” sê sy.
AfriForum se teenboelieprogram streef daarna om leerders toe te rus met meer as net kennis oor boeliegedrag. Die program fokus daarop om ’n kultuur van verantwoordelikheid, respek en omgee te bevorder waar leerders veilig voel om hulself te wees en waar elkeen verstaan dat hulle ’n rol het om te speel in die skep van ’n positiewe skoolomgewing.
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.



