|

AfriForum se Stilfontein-tak maak ’n duik in slaggatprobleem

Die AfriForum-tak in Stilfontein het verlede week voortgegaan om slaggate om Laerskool Driefonteine te herstel. Dié tak het in Mei meer as 100 slaggate in die gebied herstel en het vandeesmaand die projek in samewerking met Pieter du Preez, raadslid vir wyk 30, in Gouritz- en Elsiestraat voortgesit. ’n Deel van Stilfonteinweg, tussen die verkeersirkels op Somersetrylaan en Kowiestraat, is ook herstel.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê skole lê vir AfriForum na aan die hart, daarom fokus die organisasie op die paaie om die skole om dit vir ouers moontlik te maak om hul kinders veilig na en van die skool te vervoer. Die tak beplan om maandeliks herstelwerk in die gebied te doen.

“Die swak toestand van die paaie beteken dat hierdie projek werklik ’n groot verskil in inwoners se lewens maak. Elke gemeenskapslid se inkoop sal toesien dat Stilfontein se paaie in die toekoms weer in ’n rybare toestand is,” sê Pretorius.

Jonathan Fourie, voorsitter van AfriForum se Stilfontein-tak, het diegene bedank wat dit moontlik gemaak het om oor die afgelope paar maande bykans 200 slaggate in Stilfontein te herstel. Hy het ook ’n beroep op inwoners gedoen om hande te vat met die organisasie sodat nog slaggate opgevul kan word.

“Daar bestaan ’n groeiende behoefte aan betroubare dienslewering, daarom neem elkeen wat ’n bydrae tot hierdie projek maak die eerste stap om self verantwoordelikheid vir hul omgewing te neem,” sê Fourie.

Kontak Jonathan Fourie by 082 776 4813 om by die tak betrokke te raak of ’n skenking te maak wat die paaie van Stilfontein sal verbeter.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf