|

Boeliegedrag verloor sy krag wanneer waardes geleef word: AfriForum inspireer leerders by Laerskool Gene Louw

AfriForum se waardegedrewe teenboeliesessie het vandeesweek leerders van Laerskool Gene Louw in Durbanville toegerus én geïnspireer.  Hierdie aanbieding het sterk klem geplaas op die bekamping van boeliegedrag deur die doelbewuste uitleef van positiewe waardes. Die fokus het nie slegs geval op wat leerders nié moet doen nie, maar ook op hoe elke leerder ’n aktiewe rol kan speel om ’n veiliger, vriendeliker en meer ondersteunende skoolomgewing te skep.

Die aanbieding benadruk dat boeliegedrag nie net fisieke optrede behels nie, maar dat die gebruik van afbrekende woorde, uitsluiting, vernedering en die stille toekyk wanneer iemand swaarkry ook as boeliegedrag gereken word. Leerders is aangemoedig om te besef dat hul alledaagse keuses – hoe hulle praat, reageer en ander behandel – ’n direkte invloed het op die kultuur van hul skool. ’n Enkele woord van aanmoediging, ’n daad van insluiting of die moed om vir iemand op te staan, kan ’n blywende verskil maak.

Leerders het interaktief deelgeneem aan die sessie en is bewus gemaak van die werklike impak van boeliegedrag en geïnspireer om aktiewe draers van waardes soos respek, empatie, selfbeheersing en verantwoordelikheid te wees. Die boodskap was duidelik: Boeliegedrag verloor sy krag wanneer meer leerders kies om doelbewus goedhartigheid en moed uit te leef.

Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram, sê kinders moet verstaan dat positiewe verandering by hul eie optrede begin. “Leerders besef dikwels nie hoe groot die invloed van hul woorde en dade is nie. Wanneer hulle kies om ander in te sluit, met respek op te tree en op te staan vir iemand wat verneder word, help hulle om boeliegedrag daadwerklik hok te slaan.”

Die beeld van die volle wapenrusting van God is gebruik om leerders op ’n kreatiewe en betekenisvolle manier toe te rus met waardes wat hulle in hul daaglikse lewe kan uitleef. Elke deel van die wapenrusting verteenwoordig ’n belangrike beginsel wat kinders help om hulself teen boeliegedrag te beskerm.

“Kinders onthou nie altyd elke reël wat vir hulle geleer word nie, maar hulle onthou hoe ander mense hulle laat voel het,” sê Erasmus. “Daarom wil ons leerders inspireer om mense te wees wat veiligheid, aanvaarding en respek skep waar hulle ook al gaan.”

AfriForum se teenboelie-inisiatief het ten doel om skole te help bou waar goeie waardes daagliks uitgeleef word en boeliegedrag daadwerklik gepak word. Skole wat by dié projek wil inskakel of meer oor die teenboelieaanbiedings wil uitvind, kan ’n e-pos stuur aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings

Veiligheid