|

Brandfort-tak help waterheld vergoed ná onbetaalde munisipale salaris

AfriForum het vandeesmaand ’n deel van Lahlekile Simon Khetcha, ’n werknemer van die Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit, se salaris betaal nadat hy sonder ’n salaris voortgegaan het om water na die gemeenskap van die Winnie Mandela-dorp (Brandfort) te pomp.

“As erkenning vir mnr. Khetcha se toewyding tot die gemeenskap – selfs toe talle ander munisipale werkers tou opgegooi het – het AfriForum besluit om in te tree en ’n gedeelte van sy salaris te betaal,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Talle werknemers van dié munisipaliteit het nie in Junie hul salarisse ontvang nie. Die munisipaliteit se jarelange wanbestuur van sy finansies en sy versuim om salarisse te betaal nadat die Nasionale Tesourie sy toekennings teruggehou het, het daartoe gelei dat talle werkers nie vir diens aangemeld het nie. Gevolglik het dienslewering op die dorp feitlik tot stilstand gekom.

“Dit is ’n skreiende skande dat Jan Publiek én getroue munisipale werkers die prys betaal vir die munisipaliteit se volgehoue finansiële wanbestuur. Inwoners leef al vir jare lank met watertekorte en AfriForum het reeds verlede jaar broodnodige bystand gebied deur noodwaterpunte op te rig,” sê Ikking.

“Dit is wel prysenswaardig dat mnr. Khetcha besluit het dat dienslewering steeds belangrik is en toegesien het dat die gemeenskap watertoevoer het. AfriForum kon nie toekyk hoe só ’n toegewyde persoon sonder enige ondersteuning voortsukkel nie.”

AfriForum het ’n beroep op die Masilonyana-munisipaliteit gedoen om dringend sy finansiële bestuur in orde te kry sodat munisipale werkers nie hul lewensbestaan kwyt is nie en basiese dienslewering nooit weer in gedrang kom nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf