Nuwe regulasies bedreig eiendomsreg en openbare toegang tot damme – AfriForum
Die departement van Water en Sanitasie se voorgestelde regulasies oor die bestuur en beheer van staatsdamme is ’n ongeregverdigde en onregmatige poging om openbare toegang tot damme te beperk en staatsbeheer oor privaat eiendom uit te brei. Dít volgens AfriForum, wat vandag formeel kommentaar ingedien het teen die konsepregulasies wat op 16 Januarie 2026 gepubliseer is.
AfriForum beklemtoon dat hy verantwoordelike waterbestuur ondersteun, maar dat die voorgestelde regulasies veel verder as hierdie doelwit strek. Dit stel ’n parallelle regulatoriese stelsel bekend wat bestaande regte ondermyn, oormatige administratiewe laste oplê en gewone gebruik van damme vir ontspanning onder staatsbeheer plaas.
’n Belangrike bron van kommer is dat lede van die publiek goedkeuring sal benodig om toegang te verkry tot damme wat aan die staat behoort of bestuur word, soos byvoorbeeld die Vaaldam. Indien dit nie gedoen word nie, kan individue kriminele vervolging in die gesig staar. Sonder die nodige goedkeuring sal aktiwiteite soos roei en visvang, wat al dekades lank wettiglik plaasvind, effektief gekriminaliseer word.
Die regulasies bedreig ook privaat eiendomsreg. Grondeienaars langs damme sal gedwing word om aan uitgebreide vereistes te voldoen en ooreenkomste met die staat aan te gaan om toegang tot water vanaf hul eie eiendomme te verkry. Dit kom feitlik neer op ’n ontneming van eiendomsreg sonder behoorlike regverdiging.
AfriForum is veral krities oor die oënskynlike motief agter die regulasies. Die raamwerk dui op ’n poging om toegang tot damme te kommersialiseer deur huurooreenkomste en betalings vir die gebruik van water en aangrensende grond ten gunste van die staat te vereis. Dit ondermyn die beginsel dat water ’n openbare hulpbron is. Terselfdertyd is die voorgestelde stelsel administratief onwerkbaar. Dit stel komplekse goedkeuringsprosesse en voldoeningsvereistes bekend wat waarskynlik nie effektief geïmplementeer sal word nie, veral binne ’n departement wat reeds ’n tekort aan kapasiteit het.
Meer breedweg lei die regulasies die aandag van die werklike krisis in die watersektor af. Terwyl die regering poog om die gebruik van staatsdamme vir ontspanning te beheer, misluk dit om infrastruktuur te handhaaf en grootskaalse rioolbesoedeling van riviere en damme te voorkom.
“Hierdie regulasies gaan nie oor verantwoordelike waterbestuur nie – dit gaan oor beheer. Die departement poog om ’n wettige stelsel te vervang met ’n onwerkbare raamwerk wat openbare toegang sal beperk en eiendomsreg sal ondermyn,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
AfriForum doen ’n beroep op die departement om die voorgestelde regulasies terug te trek en behoorlik met belanghebbendes te skakel. Gemeenskappe en watergebruikers moet deel wees van oplossings, nie onderwerp word aan drakoniese regulasies nie.
Klik hier as jy AfriForum se pogings wil ondersteun om die regering aanspreeklik te hou én openbare toegang tot waterbronne te beskerm.



