| |

Heldeakker-begraafplaas trek nuwe baadjie aan

Die Heldeakker-begraafplaas, ’n gedeelte van die ou Pretoria-kerkhof in Pretoria-Wes, lyk nou weer spoggerig ná AfriForum se Groter Moot-buurtspan vandeesweek ’n reuse-skoonmaakaksie hier van stapel gestuur het. Hierdie aksie is moontlik gemaak met die hulp van verskeie rolspelers wat verantwoordelikheid vir die bewaring van dié erfenisterrein opgeneem het.

Die Heldeakker in Pretoria is die laaste rusplek van van die grootste geeste in die Afrikaanse taal en kultuur, insluitende Paul Kruger, Andries Pretorius en sy seun M.W. Pretorius, Eugène Marais en Jopie Fourie. Deurlopende instandhouding van die terrein is egter jare lank reeds ’n uitdaging.

“Daar was reeds vir ’n paar jaar lank ’n stelsel waarvolgens verskeie organisasies, onder die aanvoering van die FAK, en lede van die publiek op die eerste Saterdag van elke maand gehelp het om die Heldeakker skoon te hou. Die Tshwane-metro maak lankal nie meer gereeld by die begraafplaas skoon nie en dus het ander rolspelers ingespring om hierdie stukkie Afrikaner-erfenis te bewaar,” vertel Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

Die grootste uitdaging van hierdie stelsel was dat mense ook ander verantwoordelikhede het waarmee hulle op Saterdae besig is wat dit nie altyd vir selfs die stoerste bewaarders van Afrikanererfenis moontlik maak om by al hierdie skoonmaakdae uit te kom nie. ’n Ander uitdaging is die aanry van toerusting en die afwesigheid van kragpunte op die terrein wat die gebruik talle kraggereedskap onmoontlik maak. Onder hierdie omstandighede sê Bailey daar is besluit om ’n alternatiewe oplossing in te stel en AfriForum se Groter Moot-buurtspan is daarom by die projek betrek.

“AfriForum se Groter Moot-buurtspan is toegerus met die nodige gereedskap om op grootskaal gras te sny en andersins skoon te maak. Spanlede werk voltyds in gemeenskappe om woonbuurte te verfraai en te beveilig deur byvoorbeeld beboste terreine skoon te maak of slaggate te herstel. Dit is vir ons belangrik om hande te vat met ander gemeenskapsorganisasies wat daardie vermoë as ’n magsvermenigvuldiger kan gebruik om ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak. Daarom nooi ons ander gemeenskapsorganisasie en individue uit om saam met ons te werk om projekte soos dié oor die hele stad heen te laat realiseer,” sê Arno Roodt, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek.

Volgens Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is dit vir die FAK as een van die Heldeakker-beskermhere van kritieke belang om nie net nou onderhoud te doen nie, maar om ’n volhoubare langtermynoplossing te bou vir die behoud van hierdie kosbare erfenisterrein. “Die Heldeakker is meer as net ’n stuk grond – dit is ’n plek van herinnering, identiteit en dankbaarheid; ’n anker wat ons verbind met waar ons vandaan kom en ’n lewende ruimte waar geskiedenis bewaar, oorgedra en beleef kan word,” verduidelik hy.

“Daarom het ons doelbewus as ’n samewerkingsinisiatief binne ons eie geledere na ’n praktiese oplossing gekyk, en tot die slotsom gekom dat ons geld wil bewillig om mense te ondersteun wat hierdie taak met dieselfde trots, dissipline en konsekwentheid sal aanpak as wat ’n professionele tuindienste dit sou doen,” sê Müller.

Meer as net ’n begraafplaas

’n Besoek aan die Heldeakker is nie bloot ’n besoek aan ’n begraafplaas nie, dit is ’n terugblik op die geskiedenis van die Afrikaner. Daarom beoog AfriForum om geleenthede te skep waardeur die publiek dié terrein weer kan herontdek.

“Ons beoog om vir spesiale geleenthede, soos Vrededag op 31 Mei of Paul Kruger se geboortedag op 10 Oktober, kenners te kry om praatjies aan te bied of om opvoerings aan te bied. Daar kan ook by so ’n geleentheid meer aandag geskenk word aan die skoonmaak van grafstene of om die begraafplaas op ander maniere te verfraai,” sê Bailey.

Hierdie spesiale geleenthede sal die publiek die kans gun om die terrein op ’n veilige manier te besoek en byvoorbeeld op die begraafplaasterrein te parkeer. Hou AfriForum, of enige van die ander rolspelers, se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor opkomende Heldeakker-geleenthede.

Benewens die FAK en AfriForum is die volgende organisasies ook betrokke as Heldeakker-beskermhere: Erfenisstigting, Voortrekkermonument, Ons-sal-self Noord van die berg, Helpende Hand, VF Plus, Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), die Rapportryerbeweging, die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) en die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging.

Om die projek te ondersteun, kontak Müller by 072 849 8563.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners