|

Volgehoue druk laat Eskom sy deuntjie oor sonkragregistrasie verander

Deidré Steffens (Afrikaans)

Eskom het bevestig dat hy nie van plan is om boetes op te lê teen kragverbruikers wat verkies om nie hul alternatiewe kragbronne, insluitend sonkragstelsels, te registreer nie. Hierdie jongste koersverandering volg op volgehoue druk deur AfriForum dat Eskom hierdie onafdwingbare vereistes laat vaar. Die burgerregteorganisasie het vroeg verlede jaar ’n prokureursbrief aan Eskom gerig waarin die sogenaamde “verpligte” registrasievereistes bevraagteken is weens ’n gebrek aan wetlike grondslag.

Ten spyte hiervan het Eskom volgehou dat registrasie verpligtend is en dat alle sonkragstelsels deur ’n professionele ingenieur afgeteken moes word – ’n vereiste wat wyd gekritiseer is as onprakties en onnodig. Eskom het verder kragverbruikers gedreig met boetes indien hulle nie aan hierdie onafdwingbare vereistes sou voldoen nie. AfriForum voer aan dat hierdie optrede eerder ’n boelietaktiek is as verantwoordelike staatsbestuur.

Eskom het einde verlede jaar gedeeltelik teruggekrabbel deur toe te gee dat ’n geakkrediteerde elektrisiën en nie ’n professionele ingenieur nie, voldoende is om ’n stelsel af te teken. Nou het Eskom ook sy laaste troefkaart – die dreigement van boetes – laat vaar.

“AfriForum het van die begin af daarop gewys dat die registrasie van kleinskaalse ingeboude kragopwekkingstelsels, die vereistes wat daarmee gepaard gaan en die dreigement van boetes, sonder enige geldige regsgrondslag deur Eskom afgedwing word. Eskom beskik eenvoudig nie oor behoorlike beleide of wetlike magtiging om hierdie registrasies afdwingbaar te maak nie,” sê Deidre Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

“Indien Eskom wel ’n wetlike grondslag vir hierdie registrasies gehad het, sou die kragvoorsiener nie nou die vereistes en boetes laat vaar het nie. Die realiteit is dat Eskom weet dat dit nie afdwingbaar is nie en daarom toegegee het tot die druk wat organisasies soos AfriForum op hom geplaas het om die dreigement om boetes op te lê, te laat vaar.”

Aangesien Eskom steeds aandring op die registrasie van die betrokke stelsels, sal die burgerregteorganisasie voortgaan om druk uit te oefen om seker te maak dat die kragvoorsiener alle beleide en wetlike aspekte in plek het.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf