AfriForum se Kroonstad-tak maak skoonskip met Borderstraat se slaggate
AfriForum se Kroonstad-tak het in samewerking met die Kroonstad-buiteklub die herstel van Borderstraat op 25 Februarie aangepak deur die talle slaggate in dié straat te vul. Tot dusver is reeds 4 500 kg teer gebruik om die slaggate te herstel. Die projek is egter nog nie afgehandel nie en daar word beraam dat ’n verdere 1 ton teer aangewend sal word om die herstelwerk op ’n sowat 2 km-padoppervlakte van die 5 km-lange pad te voltooi.
Volgens Johan Fourie, voorsitter van die AfriForum-tak in Kroonstad, het die toestand van hierdie pad sodanig versleg dat dit vir motoriste bykans onmoontlik geraak het om Borderstraat veilig te gebruik.
“Ons kan nie toekyk hoe infrastruktuur verder verval en inwoners se veiligheid in gedrang kom nie,” sê Fourie.
Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê dit is onaanvaarbaar dat inwoners noodgedwonge self moet instaan vir basiese dienslewering waar plaaslike owerhede versuim, terwyl hulle steeds getrou hul belasting betaal.
Fourie doen ’n beroep op die publiek om deel te word van die oplossing en saam te werk om Kroonstad weer ’n beter en veiliger plek vir almal te maak. Hy sluit af deur te sê dat hy daadwerklik sal optree waar dit nodig is en dat die gemeenskap nie net sal stilsit en wag dat alles tot verval gaan nie.
AfriForum se Kroonstad-tak beplan heelwat projekte vir 2026 en is ywerig om ’n suksesverhaal van dié dorp te maak.
Word ’n lid en wees deel van die oplossing deur op die volgende skakel te klik: https://sluit-aan.afriforum.co.za?campaign=RoepToepCMO&leadSource=530722038.



